Suid-Afrika
se voorste munisipale verkwister, die Matjhabeng-munisipaliteit wat die
Vrystaatse Goudveld bedien, het Dinsdag ’n versoek ontvang om sy e-posargief,
asook die skootrekenaars en selfone van amptenare in die finansiële afdeling
aan die Zondo-kommissie te oorhandig.
Die brief
is deur die waarnemende sekretaris van die kommissie, Peter Pedlar, onderteken
Kgojane
Matutle, munisipale woordvoerder, sê die munisipaliteit gaan nie kommentaar
lewer op die versoek van die kommissie nie.
Volgens die
brief het die kommissie versoek dat alle finansiële rekords vanaf Julie 2008
tot Junie vanjaar oorhandig word.
Piet Botha,
koukusvoorsitter van die DA in Matjhabeng, het die ondersoek verwelkom.
Botha sê
daar was gerugte dat van die amptenare probeer het om finansiële rekords uit te
wis maar hulle kon gelukkig nie daarin slaag nie.
Botha sê hy
hoop ook die Zondo-kommissie kan help om die hofsaak teen die oudburgemeester
Mathabo Leeto en die gewese munisipale bestuurder, Benny Malokoane, aan die
gang te kry.
Leeto en
Malokoane was van rampokkery, bedrog en korrupsie aangekla maar dié verhoor is
’n jaar gelede deur die nasionale vervolgingsgesag (NVG) laat vaar.
Armand
Cloete, ’n VF Plus-lid in die nasionale raad van provinsies (NRP), sê die party
verwelkom die kommissie se besluit om die Matjhabeng-munisipaliteit te
ondersoek.
Cloete sê
die VF Plus het die kommissie versoek om die voormalige Vrystaatse premier, Ace
Magashule, te vra om voor die kommissie te getuig.
Magashule
moet duidelik gee oor die toenemende bewerings van staatskaping in die
Vrystaat, sê Cloete.
Eerwaarde
Mbuyiselo Stemela, woordvoerder van die Zondo-kommissie, het Donderdag gesê die
kommissie sal later ’n verklaring uitreik oor die ondersoek in die
Matjhabeng-munisipaliteit.
Die
ouditeur-generaal (OG), Kimi Makwetu, sê in sy jongste verslag die
Matjhabeng-munisipaliteit het R169 miljoen deur verkwistende en vrugtelose
uitgawes verloor.
Die
munisipaliteit het die meeste waterskuld in die land en skuld Sedibeng Water
R2.3 miljard.
Sy skuld
aan Eskom, R1.84 miljard, is die tweede meeste in die land.