BLOEMFONTEIN – ‘n Eiendomsagent en ma van twee is pas terug van die yskoue Antarktika waar sy 50km in die Ultra Ice-ultramarathon voltooi het.

Woutri Mugglestone (50), oudleerlinge van die Hoër Meisieskool Oranje en voormalige verpleegkundige, sê sy het dié wedloop aangepak om vir mense hoop te gee.

“Ek het self kanker gehad en ek weet hoe dit voel om ‘n moeilike stryd te stry. Ek het gehardloop om vir mense wat deur moeilike tye gaan, hoop te gee,” sê sy.

Hoewel Woutri nog altyd fiks was, het sy maar die afgelope twee jaar begin om aan uithou-byeenkomste deel te neem.

Woutri Mugglestone met haar medalje ná die ysige wedloop in Antarktika.

“Ek het op ‘n punt in my lewe gekom dat ek nie meer geweet het wat dit is om regtig te lewe nie. ‘n Mens gaan in ‘n oorlewingsfase. Ek het besef werk is nie alles nie. Toe besluit ek om die onbekende aan te pak.”

Sy het haar seun, Zander (23), gehelp om sy droom waar te maak met die oprigting van Grossfit Hymn, ‘n gimnasium was spesialiseer in die afrigting van crossfit en Hyrox. Sy het self afrigtingskursusse gedoen en neem ook deel aan dié sportsoorte. By die eerste Hyrox-byeenkoms in Kaapstad in September 2024 het sy ‘n podiumplek gekry.

“Ek het twee vrese – hoogte en koue. Toe besluit ek om iets aan te pak om my vrese uit te daag,” vertel sy.

As deel van haar voorbereiding vir die Ultra Ice het sy op 27 September die Tafelberg-uitdaging oor 50km voltooi. “Dit was baie moeilik omdat ek nie die roete geken het nie.”

Om voor te berei vir die ekstreme koue in Antarktika, het sy in Country Bird in Bloemfontein se koelkamers in temperature van -28°C geoefen.

Woutri Mugglestone by die eindstreep van die Ultra Ice-ultramarathon.

” ‘n Mens pak nie so ‘n uitdaging op jou eie aan nie,” sê sy oor die ure se voorbereiding. “Daar was so baie mense agter die skerms wat die journey saam met my onderneem het,” vertel sy.

Voor die wedloop was sy fiks en gesond en het sy die regte uitrusting en voeding vir dié uitdaging gehad. “Die geheim is om lae aan te trek. Ons het die wedloop gepak met tussen 3 en 5 lae klere.”

Op 7 November het sy en die 18 ander deelnemers met ‘n toegewyde vliegtuig uit Kaapstad na Antarktika vertrek en met die aankoms by hulle bestemming was die temperatuur -35°C. Die weer het saamgespeel, die baan oor 4,2km is geskraap en die volgende dag was die weer ‘n sonnige -18°C toe die wedloop amptelik begin het. Al die atlete het 24 uur gehad om hul onderskeie afstande te voltooi.

Die atlete hardloop op ‘n baan van 4.2km wat net voor die wedloop geskraap is.

“Daar is baie aanpassings wat ‘n mens moet maak as jy in sulke koue toestande hardloop,” sê Woutri. “Jy moet deur jou neus asemhaal en jy moet stadig hardloop. As jy sweet, moet jy so gou moontlik droë klere aantrek sodat die sweet nie vries nie.” Sy het tydens die wedloop 6000 kalorieë verloor en moes elke uur 120g koolhidrate inneem. “Boonop dihidreer jy maklik en moet jy baie moeite doen om genoeg water te drink.”

Op 30km het sy blase ontwikkel en moes sy stop om aandag aan haar voete te gee in ‘n verhitte kamer.

Woutri het die 50km in 8:11 min voltooi. “As jy so in die ys hardloop, ontdek jy jou innerlike krag. Daar is niemand wat jou aanmoedig nie. Dit is net jy en jou binnewêreld. Jy kan enige tyd ophou hardloop, maar ek het ‘n ooreenkoms met myself gehad om die 50km te voltooi, en ek het. Daar het later ‘n wind van so 17km/h opgekom en die temperatuur het geval. Dit het vir my gevoel soos -50°C.”

Woutri Mugglestone in aksie tydens die ultramarathon in Antarktika.

Woutri was die enigste vrou wat die 50km voltooi het en sy was ook die enigste Suid-Afrikaner in die wedloop.

Sy het Donderdag 13 November teruggekeer huis toe. “Ek het met dié uitdaging myself dieper ontdek. ‘n Deel van my journey het in Antarktika geëindig, en ‘n deel het daar begin,” sê sy.

Intussen het sy en Zander en haar dogtet, Dané (27) begin om die wêreld se hoogste pieke te klim met Kilimanjaro wat hulle reeds agter die rug het.

Dit is maar net die begin vir Woutri wat met hierdie uitdaging die lewe gevier het. “Ek hardloop nie vir medaljes nie, maar om te groei in geloof en om vroue te inspireer.

“Wanneer God jou storie skryf, het elke tree ‘n doel en elke eindstreep word ‘n getuienis.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 11 December 2025
    Vista Edition 11 December 2025

Gift this article