Die Hoërskool Fichardtpark (Fichies) in Bloemfontein het op Saterdag 15 Maart die 2025 Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks op ‘n goeie voet begin.
Drie van Fichies se vier eerste spanne het as oorwinnaars van die veld gestap.
Fichies se eerste meisieshokkiespan het 3 – 4 vasgesval. Hoewel die wedstryd wipplank gery het, het die Hoërskool Goudveld aan die einde ‘n oorwinning verseker.
Die eerste seunshokkiespan het Goudveld met 5 – 2 geklop. As verdedigende kampioen van die Wesgrow-reeks vir die afgelope twee jaar, sal die Fichies elke wedstryd met dieselfde intensiteit moet speel.
Die skool se eerste netbalspan het gemaklik met 35 – 19 geseëvier. Karla Pretorius, afrigter, sê dié span speel nog nie op volsterkte nie. Sy sê egter dat die oorwinning baie vir die span se selfvertroue sal beteken.
Die hoogtepunt van die dag was die rugby-wedstryd waar die Fichies-Leeus 40 – 0 baas was teen die Gouties se eerste rugbyspan. Die speler van die wedstryd was Fichies se buitesenter, Devan Maartens. Devan het telkemale die Gouties se verdediging getoets.
Met die 30 wedstryde in onderskeie sportkodes het Fichies 24 wedstryde gewen, vier verloor en twee gelykop gespeel.
Die ander Bloemfonteinse skole, Hoërskool Jim Fouché en die Hoërskool Sentraal, het wegwedstryde geneem. Jim Fouché se eerste netbalspan het die meisies van die Hoërskool Trio 53 – 16 geklop. In Bethlehem het Sentraal koning gekraai teen die Bethlehem Voortrekker Hoërskool.
