Die gesogte sportreeks in die sentrale deel van ons land, het die afgelope naweek afgeskop met die eerste rondte bepalings tussen die agt deelnemende skole. Nie net was ondersteuners en sportgeesdriftiges uitgehonger vir aksie nie, maar skole het ook met opgewondenheid uitgesien na die begin van die wintersportseisoen.
Die reeks wat ook bekendstaan as die Wesgrow-reeks danksy die betrokkenheid van Wesgrow as amptelike naamborg het ook reeds die afgelope seisoen, die Universiteit van die Vrystaat en Novus Media as borge verwelkom. Dit is vir die direksie en deelnemende skole ook aangenaam om VKB en Edutrace as mede-borge vanaf die 2025-seisoen te verwelkom. Dit lei ‘n nuwe era in vir skolesport in ons streek. Die same-werkingsooreenkoms met die nuwe borge sluit ook planne in om die reeks verder uit te brei en selfs ‘n onderliggende reeks op dieselfde formaat te begin waarby ander skole betrek kan word.
Massa-deelname en gesonde mededinging bly die fondasie waarop die reeks ontwikkel is en alle deelnemende skole word verbind tot ‘n etiese kode vir deelname en verplig om ‘n sekere minimum aantal spanne per kode in te skryf. Die aantal spanne het ook sedert die begin van die reeks geweldig gegroei en is ‘n aanduiding dat die betrokke skole elke jaar daarin slaag om meer leerders geleentheid tot deelname te bied.
Die afgelope naweek het die Hoërskool Diamantveld gasheer gespeel vir die Hoërskool Witteberg in Kimberley terwyl Bethlehem Voortrekker Hoërskool, die 2024 algehele titelhouer in die reeks, kragte gemeet het in Bethlehem teen die Hoërskool Sentraal. Die Hoërskool Jim Fouché het na Kroonstad gereis om teen die Hoërskool Trio kragte te meet. Die Hoërskool Fichardtpark het weer in Bloemfontein reggestaan om mee te ding teen die Goudveld-Hoërskool van Welkom.
Die nuwe seisoen gaan be-slis weer vol vele hoogtepunte en ‘n paar verrassings wees. Die reeks word op ‘n enkelrondte formaat beslis. Dit beteken dat elke bepaling, in elke ouderdomsgroep van uiterste belang is om skole se finale plekplasing aan die einde van die seisoen te be-paal. Die algehele wenner van die reeks word bepaal nadat alle wedstryde in alle kodes afgehandel is.
Die reeks behou ook sy verbintenis met SuperSport wat danksy sy SuperSport Schools-platform wedstryde aanlyn sal uitsaai. Dit maak dit moontlik dat die reeks wat oor drie provinsies strek verdere blootstelling aan alle belanghebbendes gee. Die reeks se sukses is ook te danke aan elke ouer en leerder wat naweek na naweek die betrokke skole ondersteun.
Ons sien uit daarna om weer hierdie jaar gesonde skolesport te beleef en wonderlike talent te aanskou.
