Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks beleef ’n droomseisoen

Die Sentrale Skole Sportreeks, ook bekend in die sentrale deel van Suid-Afrika as die Wesgrow-reeks, het in 2024 weer vir vele hoogtepunte gesorg.


Foto:

Die Sentrale Skole Sportreeks, ook bekend in die sentrale deel van Suid-Afrika as die Wesgrow-reeks, het in 2024 weer vir vele hoogtepunte gesorg.

Danksy top-gehalte skolesport en hope aksie trek die reeks tans reaksie uit vele oorde.

Die reeks strek tans oor die Vrystaat en Noord-Kaap heen en het ook reeds in 2023 begin met ’n laerskoolafdeling.

Die afgelope seisoen het in Februarie begin en skole het vanjaar weer verseker dat daar vele verrassings en onvergeetlike oomblikke beleef is.

Dit was ook wonderlik om die Universiteit van die Vrystaat en Sentraal24 as vennote tot die reeks te verwelkom. Die betrokkenheid van instellings soos hierdie maak dit moontlik vir skole om aan leerlinge geleenthede te bied tot verdere ontwikkeling.

Dit is waarlik ’n voorreg vir skole om deel van ’n reeks te wees waar elke leerling die geleentheid kry om te kan deelneem.

Massadeelname en gesonde mededinging bly die fondasie van die reeks. As vereiste vir deelname word daar ’n minimum getal gekoppel aan die hoeveelheid spanne wat in elke sportkode moet deelneem. Dit verseker dat elke speler sy skool mag en kan verteenwoordig.

Die Hoërskool Diamantveld se o.19A-rugbyspan het die reeks as onoorwonne afgesluit en die beker gelig op ’n puik seisoen. Net so het die Hoërskool Jim Fouché die res van die skole streepsuiker gegee in die o.19A-netbalafdeling.

In die o.19A-hokkieafdeling het Jim Fouché ook skoonskip gemaak in die seunsafdeling terwyl Bethlehem Voortrekker Hoërskool die o.19A-meisiesafdeling gewen het.

Om die finale en algehele wenner van die reeks te bepaal word die prestasie van alle spanne van o.14- tot die o.19-spanne in berekening gebring.

Foto:

Tydens ’n glansryke prysuitdelingsgeleentheid in Bloemfontein is die volgende wenners in elke afdeling aangewys:

Rugby: Diamantveld

Seunshokkie: Jim Fouché

Meisieshokkie: Bethlehem Voortrekker

Hokkie: Algeheel Jim Fouché

Netbal: Jim Fouché

Algehele Wenner van die reeks: Bethlehem Voortrekker

Dit is wonderlik om terug te kyk na ’n seisoen vol aksie. Hoewel sommige spanne se seisoene met meer uitdagings gepaard gegaan het, was dit wel ’n belewenis om die deelname tussen skole te beleef en die kameraderie van spansport te aanskou.

Dankie aan elke speler, afrigter en ouer van elke skool wat die reeks ondersteun en jul skole met trots verteenwoordig het.

Die reeks behou ook sy verbintenis met SuperSport wat danksy hul Super Sport Schools platvorm wedstryde aanlyn uitgesaai het.

Dit maak dit moontlik dat die reeks wat oor drie provinsies strek verdere blootstelling aan alle belanghebbendes gee.

Die reeks het via sportmanskap weer bewys hoe mense kan saamtrek en in goeie trou optree tot almal in die gemeenskap se voordeel. Ons sien met verwagting uit na die roemryke toekoms van die reeks.

You need to be Logged In to leave a comment.