Keagan Smith (16), gr. 11-leerling aan Welkom-Gimnasium het onlangs deur Ring Contact Fighting Arts International, sy presidensiële Protea-kleure in skopboks ontvang.
Dié lid van die Welkom Katanas-klub vlieg op 2 Augustus as deel van die Proteaspan na Engeland waar hy Suid-Afrika gaan verteenwoordig in die World Kickboxing Organisation se wêreldkampioenskap.
Daar is 16 lande en 800 deelnemers vir dié kampioenskap.
Keagan het in Januarie ’n junior instrukteurskursus in Ring Contact Fighting Art (RCFA/Kickboxing) geslaag.
In Februarie het hy by die Highveld at War-kompetisie in Lydenburg twee goue medaljes, twee silwermedaljes en een bronsmedaljes verower.
In April het hy twee silwermedaljes by die All Out War-kompetisie in Potchefstroom verower.
Hy het in Mei sy Vrystaat-kleure ontvang en einde Mei het hy aan die Jungle War nasionale kampioenskappe deelgeneem waar hy vyf silwermedaljes verower het.
Op 16 Junie is hy uitgenooi na die RCFA Arts-toekenningsgeleentheid waar hy vir sewe kategorieë benoem is.
Hy is vir vyf van die afdelings, insluitend beste junior mans student, mees bevorderde junior mans student en mees bevorderde student vereer.
Tydens die geleentheid is hy ook gekies vir die Suid-Afrikaanse span wat in Barnsley in die Verenigde Koninkryk gaan meeding.
Keagan is bekend vir sy veelsydigheid en in April het hy deelgeneem aan die Benchrest Vrystaat-skietkampioenskappe.
Hier het hy twee silwermedaljes en een goue medalje in die .22-afdeling en vier silwer- en een bronsmedalje in die pcp-geweer afdeling (vooraf gelaaide pneumatiese gewere) verower. Dit is ’n soort windbuks wat saamgeperste lug gebruik om ’n projektiel aan te dryf.
“Keagan is veelsydig, het uiters kompeterende geaardheid as sport man, en dissipline en deursettingsvermoë en hy oefen daagliks drie tot vier ure, en doen sy huiswerk,” sê Adri Smith, sy ma.
Sy sê Keagan se groot droom is om eendag aan die Ultimate Fighting Championship (UFC) te kan deelneem en om Dricus du Plessis se skoene op internasionale arena vol te kan staan.