Die polisie in Welkom het verlede week verskeie wenke opgevolg en sukses behaal.
Lede van die Welkom K9-eenheid het tydens misdaadvoorkoming in Thabong inligting ontvang oor ’n huisbraak wat plaasgevind het. Vyf verdagtes is op 30 Junie in besit van vermoedelik gesteelde items soos klere, ’n handsak en ’n paar skoene gevind.
In ’n afsonderlike voorval het die Welkom K9-eenheid ’n wenk opgevolg en ’n 45-jarige man is in besit van dagga wat 4,1 kg weeg, gevind. Die straatwaarde van die dagga is R12 000.
Lede van Welkom K9-eenheid het op 1 Julie ’n wenk ontvang oor ’n moontlike daggatransaksie. Die 32-jarige verdagte is genader en deursoek. Die polisie het vyftien sakkies (baggies) met dagga gevind en R220 kontant. Die man is in hegtenis geneem vir handel in dagga.
In ’n derde voorval, ook op 1 Julie, het die K9-eenheid in Bronville gepatrolleer toe hulle inligting ontvang het oor’n persoon wat in dagga handel dryf. ’n Huis is deursoek en tien liter dagga en tien sakkies (baggies) met dié dwelm is gevind. Hulle het ook beslag gelê op R210 kontant. Die man is van handel in dagga aangekla.