Die Provinsiale Teenkorrupsie-eenheid het ’n 56-jarige polisie-lid in hegtenis geneem wat na bewering betrokke was by die ontsnapping van die gevangene.Foto: Argiewe


’n Welkom polisiebeampte is in hegtenis geneem nadat hy ’n gevangene gehelp het om uit die tronkselle by die Welkom-landdroshof te ontsnap.

Op 29 Maart het ’n beampte in beheer van die selle by die landdroshof in Welkom bewus geword dat ’n veroordeelde uit die selle ontsnap het. Hy het ’n saak van ontsnapping uit polisie-aanhouding geopen.

Die saak is aan die Provinsiale Teenkorrupsie-eenheid oorhandig en ná ’n ondersoek is ’n 56-jarige polisieman in hegtenis geneem, wat na bewering betrokke was by die ontsnapping van die gevangene.

Die ontsnapping het na bewering plaasgevind toe gevangenes van die Welkom-landdroshof na die Odendaalsrus-korrektiewe dienste vervoer is.

Die polisie-lid is op 3 Julie by die Welkom-landdroshof in hegtenis geneem en word daarvan aangekla dat hy hulp verleen het met ’n ontsnapping en regsverydeling.

Hy het op 4 Julie in die Welkom-landdroshof verskyn en borgtog van R1 000 is aan hom toegestaan. Hy sal weer op 31 Julie in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.