“Interpol het die polisie in Welkom in Junie ingelig dat ’n man van dié stad kinder­pornografie op webtuistes plaas.

dnaindia.com

’n Man van Welkom (36) wat kinderpornografie vervaardig en op die donkerweb versprei het, is in hegtenis geneem nadat Interpol die plaaslike polisie daarvan bewus gemaak het.

Die donkerweb is ’n ondergrondse deel van die internet waar webtuistes nie met gewone soekenjins opgespoor kan word nie.

Gebruikers van die donkerweb gebruik spesiale sagteware om dikwels onwettige webtuistes te besoek waar hulle nie geïdentifiseer kan word nie.

Interpol kon aan die polisie in die Vrystaat inligting gee oor seuns wat seksueel gemolesteer is en het ook die IP-adresse van die man se selfoon en rekenaar verskaf.

“Interpol het die polisie in Welkom in Junie ingelig dat ’n man van dié stad kinder­pornografie op webtuistes plaas,” sê kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder.

AO Jan Bezuidenhout, van die polisie se provinsiale eenheid vir reeks- en elektroniese misdade, en AO Fanie van der Merwe, van Welkom se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksoortredings (GKS) het die man se huis opgespoor.

Thakeng sê die polisie het ’n lasbrief bekom om die huis te deursoek en Bezuidenhout en Van der Merwe het die man ondervra.

“Die man het video-opnames in sy besit gehad waarin hy seksueel verkeer met drie minderjariges, wat 14 of 15 jaar oud was,” sê Thakeng.

Die video’s is tussen 2016 en 2019 gemaak.

Thakeng sê die man word aangekla van die verkragting van minderjariges, asook die besit, vervaardiging en die verspreiding van kinder­pornografie.

Hy is in hegtenis geneem en is in aanhouding.

Hy moet Vrydag in die landdroshof in Welkom verskyn waar hy om borgtog aansoek sal doen.

Die polisie het ook op elektroniese toerusting beslag gelê. Die beskuldigde is volgens inligting ’n opgeleide IT-spesialis en ontwikkelaar van webtuistes.

Hy was bevriend met die ouers van die seuns, wat hy glo gereeld na sy huis genooi het en na bewering seksueel misbruik het.

Die man het ook ’n huis teen die Sandrivier in Virginia, waar hy van die misdade gepleeg het.

Sy naam mag ingevolge wetgewing eers bekend gemaak word wanneer hy op die klagte teen hom gepleit het.

Hy sal weer op 8 September in die Welkom-streekhof verskyn.

Hy bly in aanhouding.

You need to be Logged In to leave a comment.