Die Welkom SAPD ondersoek die dood van ’n bekende Welkomse egpaar nadat hulle Saterdag dood in hul huis aangetref is.
“Ons kan bevestig dat die Welkom-polisie op 6 Mei omstreeks 22:34 oor ’n skietvoorval in Somersetstraat in Dagbreek, Welkom ingelig is. Die polisie het twee lyke met skietwonde in die huis gekry. ’n Man (74) het ’n skietwond aan sy voorkop gehad. Die vrou (74) het ’n skietwond aan die agterkant van haar kop gehad. Die vuurwapen is op die vloer langs die lyk van die man gevind,” sê kapt. Stephen Thakeng, skakelbeampte van die Lejweleputswa SAPD.
Die oorledenes is geïdentifiseer as Pieter Hendrik Bezuidenhout en die vrou Anna Elizabeth Bezuidenhout. ’n Saak van moord en geregtelike doodsondersoek is geregistreer vir verdere ondersoek.