Inwoners van Welkom is sedert Sondagaand 1 Oktober vir die soveelste keer die afgelope jaar sonder water omdat ’n waterklep eenvoudig nie oopgedraai is nie.
Ontevrede inwoners van Matjhabeng wat al sedert verlede jaar gereelde slagoffers van sporadiese watertekorte en beurtwater is, moet nou ook weens onbevoegdheid sonder water klaarkom.
Manie Pretorius van die VF Plus het in ? brief aan die munisipale bestuurder, adv. Lonwabo Ngoqo, geëis dat die munisipaliteit ondersoek instel oor hoe die lakse foute begaan word en aandui wat sy plan is om die betrokke amptenary aanspreeklik te hou.
Inwoners van Welkom het net vir kort tye water omdat Sedibeng Water destyds beurtwater ingestel het om die krisis in ander dorpe te verlig.
Hoewel Sedibeng vroeër vanjaar na Bloemwater verander het, wat intussen na die Vaal-Sentraal-waterraad verander het, duur dieselfde probleme voort.