Die watervlakke van die nuwe hoëvlak-reservoir in Riebeeckstad het Vrydag 9 Junie tot 19% gestyg. Volgens die munisipaliteit het die pompe vanaf 01:00 dié oggend sterk geloop. Die vooruitsig is goed en die water sal na verwagting later vandag alle gebiede bereik.Foto: Marti Will


Teen Vrydagoggend het die watervlakke van die nuwe hoëvlak-reservoir in Riebeeckstad vir die eerste keer in weke aansienlik toegeneem, en het dit tot 19% gestyg.

Volgens die munisipaliteit het die pompe van 01:00 dié oggend sterk geloop. Die vooruitsigte is goed en die water sal na verwagting later vandag alle gebiede bereik.

Die munisipaliteit het ’n gebeurlikheidsplan wat nege waterwaens insluit om die geaffekteerde gebiede by te staan.

“Wyksraadslede help die amptenare wat getaak is met die implementering van die verspreidingsplan om geaffekteerde gemeenskappe te identifiseer. Nog twee bykomende tenkwaens is deur die munisipaliteit aangeskaf om die voorsiening van water na geaffekteerde gebiede te verhoog,” sê Tshediso Tlali, woordvoerder vir die munisipaliteit.

Deel van die gebeurlikheidsprogram is om boorgate in 30 van die wyke in Matjhabeng te sink.

Tlali sê dié proses is reeds in ’n gevorderde stadium, met twee boorgate wat reeds by wyk 3 (Phomolong, Hennenman) en wyk 10 (Riebeeckstad) aangebring is, en nóg vier in wyke 1, 2, 17 en 25 wat in ’n gevorderde stadium is.

“Die gemeenskap sal gereeld van vorderinge in kennis gestel word, sê hy.

Die munisipaliteit en Bloemwater het hul elk daartoe verbind om R4 miljoen by te dra om die gevandaliseerde Saaiplaas-watersuiweringsaanleg in Virginia op te knap. Hierdie wateraanleg sal gebruik word om water na sommige dele van Thabong en Welkom te versprei.

Die herstelwerk het reeds in alle erns begin en ’n gewapende sekuriteitsmaatskappy sal aangestel word om die aanleg en die pypleiding te patrolleer en te beveilig.

“Alle pogings sal nou aangewend word om die wateruitdaging vinnig op te los en ’n langtermynoplossing vir die waterkrisis wat die gebied in die gesig staar, te bied. ’n Oorlogskamer bestaande ??uit leierskap en amptenare van die Departement van Water en Sanitasie (DWS), Bloem Water en die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit is gestig en vergader feitlik daagliks om 07:00 en 17:00 om probleme en vordering aan te spreek.”

You need to be Logged In to leave a comment.