’n Vrou wat haar as ’n diensverskaffer voorgegee, Maria Louisa Venter (44), is in die Welkom-handelsmisdaadhof aan geldwassery skuldig bevind.
Sy is op 30 April gevonnis en het agt jaar tronkstraf gekry, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Sy is skuldig bevind op een klag van geldwassery.
In Desember 2020 het die begrotingsbestuurder by die Mantsopa plaaslike munisipaliteit ’n e-pos ontvang van Venter wat haar voorgedoen het as ’n diensverskaffer genaamd Project Pioneer Construction. Sy het ’n uitstaande betaling van R225 289,69 aangevra.
Die begrotingsbestuurder, wetende dat daar wel ’n uitstaande bedrag geld was wat aan die diensverskaffer betaal moes word, het toestemming van die hoof finansiële beampte gevra om die betaling te maak.
Daarna is die geld is oorbetaal na ’n bankrekening wat deur die valse diensverskaffer verskaf is.
’n Paar dae later het die wettige diensverskaffer die munisipaliteit genader en die uitstaande betaling aangevra. Die begrotingsbestuurder het toe ’n bewys van betaling aan die diensverskaffer gestuur wat besef dat dit nie die regte bankbesonderhede is nie en ook die e-pos bevraagteken wat deur die valse diensverskaffer aan die munisipaliteit gestuur is.
Die munisipaliteit het by die bank bevestig dat hulle geld aan die verdagte betaal is.
Die saak is na die Valke se ondersoekspan vir ernstige kommersiële misdaad in Bethlehem verwys vir verdere ondersoek.
’n Lasbrief tot inhegtenisneming is daarna op 14 Februarie teen Venter uitgereik. Sy is in Pretoria opgespoor en deur die polisie van Pretoria-Noord in hegtenis geneem.
Hulle het haar aan die Valke oorhandig om haar eerste verskyning op 16 Februarie te maak.
Die Vrystaatse hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek, genl. maj. Mokgadi Bokaba het die ondersoekbeampte geprys vir hulle ondersoek wat gelei het tot Venster se vonnisoplegging.