Die 2023 internasionale Eskom wetenskap-ekspo finaliste vanoor die hele land. Hierdie is Suid-Afrika se slimste jong wetenskaplikes wat van 3 tot 6 Oktober 2023 aan die gesogte uitstalling by die Birchwood-hotel en -konferensiesentrum in Boksburg gaan deelneem.Foto: Verkskaf


Ses jong wetenskaplikes van Welkom gaan vanjaar by die Birchwood-hotel en -konferensiesentrum in Boksburg meeding vir top-eerbewyse by vanjaar se internasionale Eskom wetenskap-ekspo.

Dié uitstalling gaan ’n wêreldwye vertoonvenster van talent wees, met deelnemers van 35 streke regoor Suid-Afrika, insluitend internasionale leerlinge van tien lande.

Daar is altesaam 330 plaaslike jong wetenskaplikes, en 20 deelnemers van Ghana, Indië, Kenia, Lesotho, Mexiko, Mosambiek, Namibië, Zimbabwe, Indonesië en Turkye. Die jong wetenskaplikes gaan hul innoverende projekte ten toon stel.

Nadat hulle oor mededingers in streekeindrondes regoor Suid-Afrika geseëvier het, is hierdie uitblinkers nou gretig om ’n paneel van beoordelaars en bedryfskenners te beïndruk vir ’n kans om top-eerbewyse te verseker.

Die top senior en junior deelnemers sal met onderskeidelik R75 000 en R50 000 kontant beloon word.

Meer as 20 leerlinge sal met internasionale reise (alle kostes gedek) na ander kompetisies regoor die wêreld beloon word.

Vanjaar se Eskom-ekspo sal nie net ’n platform vir wetenskaplike nuwighede wees nie, maar ook ’n kans vir deelnemers om Johannesburg se ryk kulturele en wetenskaplike erfenis te verken deur begeleide toere deur die Johannesburgse botaniese tuine, dieretuin en die Sci-Bono-ontdekkingsentrum.

Die reis na die Eskom-ekspo het begin met werksessies in elk van die nege provinsies, gevolg deur navorsings- en innovasiekampe, distriksekspo’s en streeksekspo’s.

Vanjaar het die Eskom-ekspo ’n merkwaardige toename in die aantal projekte gesien, met deelname wat gestyg het van 4 432 in 2022 tot 7 959 in 2023. Ongeveer 4 950 meisies en 3 009 seuns was aktief betrokke by die streekekspo’s.

Lede van die publiek word genooi om die uitstalling by te woon en eerstehands die indrukwekkende projekte te sien.

Die uitstalsaal is oop vir die publiek op Donderdag 5 Oktober van 15:00 tot 17:00 by die Birchwood-hotel en -konferensiesentrum.

Die Welkom finaliste is:

¦ Nyakallo Mbongo – Welkom-Gimnasium;

¦ Karmini Visser – Welkom-Gimnasium;

¦ Noor Fatima – Welkom-Gimnasium;

¦ Calista Gerber – Welkom-Gimnasium;

¦ Micaela Sardinha – St. Andrew’s Welkom; en

¦ Kganyo Makapane – Hentie Cilliers Hoërskool.

You need to be Logged In to leave a comment.