Welkom-polisie stop vermeende veediewe in hul spore

Lede van die Welkom-blitspatrollie het vier verdagtes in hegtenis geneem waar hulle besig was om 52 gesteelde skape op ’n sleepwa te laai.

Die vier verdagtes wat in besit van 52 gesteelde skape was. Die skape is gesteel by plase in Welkom en Odendaalsrus. Foto: SAPD


Lede van die Welkom-blitspatrollie het vier verdagtes in hegtenis geneem waar hulle besig was om 52 gesteelde skape op ’n sleepwa te laai.

Dinsdag 27 Augustus was die polisie besig om in Jasonsweg in Riebeeckstad te patrolleer toe hulle ’n maroen-kleurige Mazda met Gautengse nommerplate gewaar het. Vier mans was besig om skape op die Mazda en ’n wit Toyota Hilux-bakkie te laai.

Albei voertuie is gestop en die vervoersertifikaat vir die skape is aangevra. Hulle optrede was verdag en ’n lid van die Odendaalsrus se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies is na die toneel ontbied.

’n Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die 52 skape ter waarde van R120 000 by die plaas Wolwepan in die Welkom-distrik gesteel is. ’n Verdere saak is in Odendaalsrus geregistreer.

Die vier verdagtes is in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde vee (skape) en daar is ook op die twee voertuie, ’n sleepwa en twee selfone beslag gelê.

Lede van die Welkom-blitspatrollie wat betrokke by die inhegtenisname was, is konst. Kapeng Lichaba, en sers. Dibakwane Mhlambi en Edward Holtzhauzen.

You need to be Logged In to leave a comment.