Dele van die munisipale geboue in Welkom en Virginia het Maandagaand 25 Maart in vlamme uitgebars toe woedende werkers amok gemaak het nadat hulle ingelig is oor die uitkoms van nóg ’n mislukte samesprekings in die negende week van die nywerheidstaking in Matjhabeng.
Kort nádat ’n ramspoedig vergadering oor lones en die geen-werk-geen-betaling-beleid doodgeloop het, het werkers die strate van Welkom om die munisipale gebou ingevaar en bome en bande aan die brand gesteek. Hulle het die gebou van die departement van finansies beskadig, en ook Stateway en die omliggende paaie met bakstene en stukke sement versper. Op dié vergadering het die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) se besware op dooie ore geval.
In Virginia het die verwoesting toegeneem, die munisipale kliniek en gebou is gedeeltelik aan die brand gesteek en grootskaalse skade in omliggende gebied aangerig.
Volgens Tiisetso Mahlatsi, provinsiale sekretaris van Samwu, is die kern van die saak dat die vakbond in die nege weke van die staking nie amptelik in kennis gestel is dat ’n geen-werk-geen-betaling-beleid afgedwing sal word nie. Ná vorige onderhandelinge en ooreenkomste was daar beloftes van betaling wat nie nagekom is nie.
Vandeesmaand het sommige werkers uiteindelik salarisse ontvang met bedrae van tot R5 000 wat vir “Diverse Retrieve” afgetrek is.
Mahlatsi sê die Matjhabeng-raad het besluit dat die geaffekteerde werknemers “vergoed moet word en dat die Februarie-salarisse betaal moet word op voorwaarde dat dit ’n vordering is wat vir drie maande terugbetaalbaar is.”
Verder het die raad ook besluit dat die geaffekteerde werknemers “’n betalingsooreenkoms met die werkgewer moet aangaan voordat sodanige betaling gebeur.”
Hierdie standpunt het werkers onstel en veroorsaak dat hulle voel hulle is beroof van salarisse wat aan hulle verskuldig is.
Tshediso Tlali, woordvoerder van Matjhabeng, sê ondanks ernstige pogings om kommer aan te spreek deur aan te bied om Februarie-salarisse uit te betaal, het Samwu beswaar gemaak teen die voorwaardes om geld af te trek vir die dae wat nie deur sy lede gewerk is nie.
Tlali bevestig dat sake nie in die vergadering opgelos is nie.
Die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit herhaal sy onwrikbare verbintenis om hierdie kwessie op te los deur voortgesette samewerking met Samwu, wat die welsyn van toegewyde werknemers en die inwoners van Matjhabeng prioritiseer.
Die Matjhabeng-polisie bevestig dat die finansiële kantore van die Matjhabeng-munisipaliteit beskadig en gedeeltelik verbrand is, en dat paaie afgesper is met brandende rommel.
Kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die Lejweleputswa-polisie, sê ’n saak van openbare geweld is by die Welkom-polisiestasie geregistreer.
Hy sê in Virginia by die munisipale perseel, is bome gebrand en kantoorvensters gebreek. Die binnekant van een kantoor waar lêers gehou is, is verbrand. ’n Saak van openbare geweld is by die Virginia-polisiestasie geregistreer vir verdere ondersoek.
Thakeng sê lede van die openbare-orde-polisiëring monitor die situasie. Daar was geen inhegtenisnemings nie.