Die ondersoek na die gru-moord op Welkom se bekende dr. Simon Ngcobo (62) wat in Oktober 2022 vermoor is, is in ’n gevorderde stadium.
“Ons kan bevestig dat die ondersoek na die moord voortduur en is in ’n gevorderde stadium. Die ondersoekspan in Welkom se eenheid teen ernstige en gewelddadige misdade lei in dié verband. Ons waardeer die inwoners van Welkom wat vir ons inligting gegee het, wat ons baie gehelp het in terme van hierdie grusame moord op die bekende dokter,” sê kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die Lejweleputswa-polisie.
Op Maandag 17 Oktober, nadat Ngcobo se 27-jarige vrou met hul twee dogters van onderskeidelik twee en vyf jaar oud by hul tuiste tydens beurtkrag aangekom het, het twee gewapende mans die gesin oorrompel.
Sy was besig om die voertuig in die motorhuis te parkeer toe sy haar vyf-jarige hoor skree. ’n Onbekende man het ’n vuurwapen op die kind se kop gerig.
Sy het toe ’n tweede gewapende man opgemerk.
Die ma en haar dogtertjies is in die huis gedwing waar Ngcobo die deur oopgemaak het.
Thakeng het in 2022 aan Vista gesê dit was toe die twee verdagtes hulself in die huis geforseer het.
Hulle het kontant geëis, en ’n onbekende bedrag geld is uit die kluis geneem. Hulle het ook selfone gevat. Die verdagtes het die dokter uit sy huis gedwing, en sy liggaam is later langs sy eie voertuig in Riebeeckstad gekry.
Hy het skietwonde aan sy kop en bors opgedoen, en sy hande was agter sy rug vasgebind. Hy is teregstellingstyl geskiet.
Ten tyde van die moord was die Welkom-gemeenskap in skok. Ngcobo was bekend en hoogs gerespekteer.
Hy was vir baie jare betrokke by die Welkom Motocross-klub, en sy drie ouer seuns het aan verskeie byeenkomste deelgeneem. Ngcobo was op wedrendae die klub se mediese dokter. Hy het ook die sport by Motorsport Suid-Afrika (MSA) verteenwoordig.
Enigeen met inligting kan speursers. Andrew Lechesa van die eenheid teen ernstige en gewelddadige misdade by 060-985-9330 of Crime Stop by 08600-10111 bel.