- Twee broers gevang met R650 000 koperkabel
- Die eienaar van die skrootwerf is ’n boete van R3 000 opgelê
- Eskom bevestig dit is hulle kabel
__________________________________________________________
Twee broers van Welkom is vir die besit van vermoedelik gesteelde koperkabel ter waarde van R650 000, in hegtenis geneem.
Die broers (onderskeidelik 33- en 36 jaar oud) is werknemers by ’n skrootwerf in Welkom. Deel van hul verantwoordelikheid is om goedere te aanvaar, te weeg en te koop.
Hulle is op 30 Oktober tydens ’n veelsydige operasie wat uit die Welkom se ernstige georganiseerde misdaad-ondersoekspan, die vuurwapens, drank en tweedehandse goedere-ondersoekspan, Eskom en Transnet bestaan het, in hegtenis geneem.
Dié ontwrigtende optrede was om persele te deursoek en beslagleggingsbevele uit te voer. Die eienaar van die skrootwerf is ’n boete van R3 000 vir die versuim om by die bepalings van die Wet op Tweedehandse Goedere te hou, opgelê.
Tydens die optrede op dié skrootwerf het lede van die Welkom-ondersoekspan koperkabel ontdek wat hulle vermoed gesteel is. Dié vermoede is toe deur ’n Eskom-werknemer bevestig en hy het die kabel positief geïdentifiseer as eiendom van Eskom.
Die hoof van die Valke in die Vrystaat, gen-maj. Mokgadi Bokaba, het die span wat by hierdie operasie betrokke was, geprys.
“Kabeldiefstal ontwrig kommunikasie, stop die toevoer van elektrisiteit en keer dat noodsaaklike dienste diegene in nood bereik. Dit moet ons kollektiewe verantwoordelikheid wees om hierdie multimiljoenrand-misdaad te beveg,” het sy gesê.