“Ons ma was kosbaar, maar sy sou nie wou hê ons moet spog met dit wat sy vir ander gedoen het nie,” sê Lida Stander, dogter van Alida van Wyk (79), wat verlede week oorlede is.

Van Wyk, was ’n geliefde inwoner van Ventersburg, waar sy gereeld mense gehelp het.

“Sy was ’n omgee-mens wat haarself tekort gedoen het om ander gelukkig te maak. Ek glo sy het haar gesondheidsprobleme weggesteek,” sê Wilma de Klerk, wat saam met Van Wyk in die Gereformeerde Kerk was.

Van Wyk is op Maandag 17 Oktober in Welkom in die hospitaal opgeneem, nadat sy maagprobleme ondervind het.

Sy is geopereer, maar is weens komplikasies oorlede, nadat ’n maagseer, volgens dokters gebars het.

“Sy was ’n rolmodel vir ons almal en sal onthou word vir haar onbaatsugtigheid,” sê De Klerk.

“Ons in die Gereformeerde Kerk sal haar onthou omdat sy bykans elke Sondag van die lidmate of van haar vriende vir ’n Sondagmaal genooi het,” sê De Klerk.

“Ek en my man, Hugo, het haar en haar man, Dolf, ’n leeftyd geken.”

Sy was baie by die kerk betrokke en sou wanneer die gemeente vleis vir geldinsamelings bewerk, vir almal kosmaak.

Van Wyk het tot kort voordat sy siek geword het, nog gereeld bejaardes in Ventersburg se Huis Nasina, ’n sorgsentrum vir bejaardes, besoek en die inwoners versorg.

Van Wyk was in die gemeenskap bekend as iemand, wat altyd na nuwe intrekkers sou uitreik, en seker sou maak dat hulle deel van haar vriendekring word.

“My ma was Ventersburg se Uber,” sê Stander, omdat haar ma almal, wat nie vervoer gehad het nie, vir dokters- en haarkapperafsprake of inkopies rondgery het.

Van Wyk het op Marble Hall in Limpopo grootgeword en sy het in 1963 met Dolf, ’n boorling van Ventersburg getrou.

Die egpaar het jare lank op ’n plaas buite die dorp gebly.

Hulle het later na Hennenman verhuis waar hulle pleegkinders as deel van die kerk se Koningskinders-projek ingeneem het.

Dolf is in 2009 oorlede en Van Wyk het die afgelope paar jaar in Ventersburg gebly.

Sy was ongeveer 25 jaar lank by die liefdadigheidsorganisasie, Oranje Vrouevereniging betrokke, wat later Vrystaat Vroue in Aksie (VVA) genoem is.

Sy was ook jare lank die orrelis vir Hennenman en Ventersburg se Gereformeerde gemeentes.

Sy word deur haar drie kinders, Lida, Dolf en Boetman, agt kleinkinders en sewe agterkleinkinders oorleef.

Van Wyk word Vrydag om 11:00 uit die Gereformeerde Kerk in Ventersburg begrawe. – Alet van der Walt, Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.