Sekerlik een van die mooiste verhale in die Bybel, is die verhaal van Abraham waarvan ons lees in Genesis 15.
In die Nuwe Testament is daar ‘n vers in Jakobus 2:23 waar Jakobus sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek, en hy is ‘n vriend van God genoem.”
Om ‘n vriend van God genoem te word, is om te weet wie God is en in ‘n verhouding met God te wees.
Geloof is die rede waarom ons aan ‘n kerk behoort en onsself kinders van God kan noem. Geloof is die fondament en hoeksteen van ons hele lewe, en tog gebeur dit dat ons Geloof deur ons omstandighede afgetakel word.
Abraham het homself in verskillende omstandighede bevind:
■ hongersnood het sy lewe bedreig;
■ hy het familie twis ervaar;
■ hy was met oorlog gemoeid; en
■ hy het geen kinders gehad nie.
Lees gerus Genesis 15:3-4 en hoor hoe swaarmoedig Abraham met God praat. Dit is in hierdie verse wat ons sy emosie beleef as dié van ons eie. Ons kyk so maklik vas in alles wat verkeerd gaan in ons lewe. Ons kan so maklik God se woord in twyfel trek en dalk net voel daar is geen hoop nie. Abraham se gesprek kom in vers 5 tot ‘n draaipunt wat selfs vir my ‘n groot oomblik van nadenke is.
God vra Abram om buitentoe te gaan en na die hemel te kyk en, as hy kan, die sterre te tel. Dit is hier wat Abram opkyk na die hemel en besef God bly God – Hy ken elke ster by die naam, vir Hom is elke ster belangrik. God is totaal in beheer. Hy verstaan en weet wat ek en jy ervaar en op die oomblik beleef. In vers 6 lees ons net die woorde: Abraham het toe in die Here geglo.
Wat nodig ek en jy om vandag te sê: “Ek glo in God?”
Ek kan vir myself sê: Geloof is Genade. God is deel van my lewe, nie omdat ek so sê nie maar omdat ek weet dit so geskryf staan in God se Woord.
Geloof is ‘n saak wat by God begin, om te sê “Ek glo” moet daar eers ‘n God wees wat my pad gekruis het. Geloof is die manier waarop ek op God se liefde antwoord.
Kom ons plaas net weer vandag ons geloof in God – Kom ons kyk nie vas teen ons omstandighede nie. Kom ons kyk na die sterre hemel en weet vandag is God steeds God. Hy is by ons!
Abram se lewe getuig van geloof – van vertroue in Ons Hemelse Vader.
Volhard in die geloof. God is getrou. Hy sal in jou behoeftes voorsien. Die vraag is: Glo ons dit? Abraham, die vader van die gelowiges, het geglo maar glo ek en jy dit?
■Heidi McLaren is van die NG kerk Bedelia