Die Goudveld-Multisportklub bied vanjaar die Anco-ultramarathon 4-in-1 op 11 Maart aan.
Dit is die vyfde jaar dat dit aangebied word en die derde keer in Welkom.
“Daar was ’n behoefte in die Goudveld en die Vrystaatse platteland om ’n ultrawedloop aan te bied. In 2019 is die wedloop by Aldam aangebied,” sê Heidi Mc Laren, een van die organiseerders.
“Die logistieke en geldelike uitgawes het ons genoodsaak om die wedloop in 2020 na Welkom te skuif.
“Die hoofborg, Anco Enterprises van Mike en Wayne Currin, maak dit moontlik om hierdie Anco-ultramarathon 4-in-1 op ’n professionele grondslag aan te bied. Mike Currin is ook ’n Comrades-atleet, asook gekwalifiseerde skeidsregter wat met silwermedaljes spog.
“Hierdie unieke en veilige sirkelroete van 16 km bied hardloopers vier wedlope, asook ’n 5 km-familiestapgeleentheid,” sê Mc Laren.
Die 48 km, 32 km, 16 km en die nuwe 10 km-ontwikkelingswedloop bied vir elke atleet ’n uitdaging.
Die roete is veilig, met afwisselende omgewings wat deur sewe waterpunte bedien word.
“Daar is groot belangstelling omdat die Anco 4-in-1 goeie oefening vir die Two Oceans, asook ’n kwalifiserende wedloop vir die Comrades, is.
“Ons moedig alle atlete van Welkom en omgewing aan om die plaaslike wedlope te ondersteun.
“Die ondersteuning van die wedlope maak die volhoubaarheid daarvan in die toekoms moontlik,” sêMc Laren.