Die voortslepende waterkrisis op Senekal het inwoners met hul hande in hul hare. Die dorp is soms tot drie weke sonder water. Hier staan inwoners tou om by die watertrokke water te tap.
Die voortslepende waterkrisis op Senekal het inwoners met hul hande in hul hare. Die dorp is soms tot drie weke sonder water. Hier staan inwoners tou om by die watertrokke water te tap. Credit: Verskaf

Inwoners van Senekal en omliggende gebiede sukkel steeds met ’n voortslepende waterkrisis, ná die dorp op Vrydag, 13 Junie weer sonder watervoorsiening was. Dit volg skaars ’n maand ná ’n onderbreking van byna 18 dae sonder water – die jongste in ’n reeks krisisse wat sedert 2016 voortduur.

Volgens Irma Heymans, VF Plus-raadslid en inwoner van die dorp, is miljoene rande reeds aan die verbetering van die dorp se waterwerke toegewys. Die vyfjaarprojek, wat nou in sy laaste fase is, word egter vertraag weens herhaalde infrastruktuurprobleme en ongunstige weerstoestande.

“Die stelsel is oud en breek voortdurend. Hoewel daar vordering is, gebeur dit te stadig,” sê Heymans.

Die impak op die gemeenskap is wydverspreid. Senekal lê op ’n belangrike reisroete na KwaZulu-Natal, en plaaslike restaurante en motorhawens verloor inkomste wanneer reisigers weens die gebrek aan water nie meer in die dorp wil stop nie.

Die situasie raak ook kwesbare instellings soos kinderhuise en ouetehuise ernstig. Heymans sê ’n kinderhuis moes onlangs R7 000 betaal vir noodwatervoorsiening – ‘n bedrag wat nie volhoubaar is nie.

“Ons bejaardes kan nie self water gaan haal nie. Watertrokke help, maar dit is nie genoeg nie.”

DA-raadslid in die Setsoto Munisipaliteit, Riëtte Dell, het bevestig dat hulle ’n formele brief aan die Vrystaatse departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) gaan rig. Die party eis verduideliking oor die voortdurende probleme ten spyte van die miljoene wat reeds aan infrastruktuur bestee is.

“Inwoners van Senekal en Matwabeng verdien betroubare, veilige watervoorsiening,” sê Dell.

Die gemeenskap roep op vir dringende ingryping, deursigtigheid in fondsbestuur en volhoubare oplossings.


You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025