In Desember is twee watermeters per dag in Odendaalsrus gesteel. Gemiddeld word tussen 60 tot 80 watermeters per maand in die groter Matjhabeng buit gemaak.
Die meters word gewoonlik gedurende middernagtelike u uit die grond geruk en die infrastruktuur word beskadig en duisende liters water gaan verlore.
“Die skade word op R3 000 per meter geraam. Dit beroof Matjhabeng ook van mannekrag wat nodig is om die reeds wankelende infrastruktuur in stand te hou,” sê André Styger, DA-raadslid in Matjhabeng.
Hy sê plastiek- sowel as kopermeters word geteiken aangesien plastiek se tweedehandse ware per kilogram nou met dié van koper meeding.
“Aldus ’n betroubare bron by die munisipaliteit is dit nie bloot net ’n kriminele element wat daarvoor verantwoordelik is nie, maar bestaan daar ook ’n sterk vermoede van sabotasie,” sê Styger.
Die munisipaliteit versoek dat inwoners waaksaam moet wees en enige voorval by die polisie aanmeld.
“Die munisipaliteit kan slegs ’n gesteelde watermeter ver- vang, as ’n diefstalklag by die polisie ingedien is,” sê Styger.