Die waterprobleem in Matjhabeng bereik krisisvlak met inwoners wat vuil, modderige water ontvang en talle pypbarsings wat probleme veroorsaak.
So sê Manie Pretorius van die VFPlus in Matjhabeng.
“Hierdie situasie word direk toegeskryf aan die ANC se jarelange versuim om infrastruktuur te onderhou. Die gebrek aan instandhouding het daartoe gelei dat pype nie die watervolume druk kan hanteer wanneer watertoevoer herstel word nie.”
Pretorius sê pype wat sogenaamd herstel word, begin binne ’n dag weer lek weens swak instandhouding deur ongekwalifiseerde amptenare wat substandaard onderdele gebruik.
“Die moontlikheid bestaan dat die areas waar pype bars deur die modderwater besoedel word. Besoedeling in opgaardamme word nie uitgesluit nie.”
Hoewel die raad onlangs tydens ’n raadsvergadering besluit het om ’n waterkomitee saam te stel, met verteenwoordiging van alle politieke partye om beter kommunikasie te verseker, is hierdie besluit nog nie toegepas nie.
René Steyn van die DA neem kennis dat die verklaring deur die Vaal Sentrale Waterraad (VCW) op 20 Augustus uitgereik is.
“Ondanks die versekering dat die verkleurde drinkwater wat van die Balkfontein Waterbehandelingsaanleg versprei word, veilig is vir menslike gebruik, is die DA bekommerd oor hierdie bewering en die implikasies daarvan vir openbare gesondheid en vertroue in watergehalte,” sê sy.
Vir water om as veilig beskou te word, moet dit aan gesondheids- en bruikbaarheidstandaarde voldoen.
“Tans rapporteer Matjhabeng-inwoners onwelriekende, bruin water wat sigbaar ongeskik is vir basiese huishoudelike gebruik soos kook, skoonmaak en wasgoed. Terwyl hulle die water se veiligheid verseker, versuim hul om die geleefde ervaring van inwoners te erken wat weens die voorkoms, reuk en smaak nie die water kan gebruik nie.”
Steyn bevraagteken hoe water wat esteties onaanvaarbaar is, met selfvertroue as veilig bestempel kan word. Sulke eise boesem nie vertroue in nie, veral wanneer inwoners gelaat word om te worstel met water wat sigbaar soos afvalwater lyk.
“Daarbenewens laat die gebrek aan onafhanklike derdeparty-toetsing en deursigtige verslagdoening oor chemiese en mikrobiese vlakke groot ruimte vir twyfel oor die waarheid van VCW se versekerings.”
Hierdie krisis het die sistemiese verwaarlosing en onderinvestering in waterinfrastruktuur oor dekades verder blootgelê.
Die VCW se erkenning dat die verkleuring ’n seisoenale verskynsel is, laat vrae oor hul paraatheid en waarom langtermyn infrastruktuuropknappings nie geprioritiseer is om herhalende kwessies te voorkom nie.
Verder vererger nagtelike beurtwater en wisselende druk in die pype die probleem, en dit veroorsaak gereeld lekplekke.
“Ondanks VCW se verklaring, het die munisipaliteit versuim om die onmiddellike bekommernisse van inwoners aan te spreek, wat hulle met weinig meer as hol gerusstellings gelaat het,” sê Steyn.