Enkele vuurwapeneienaars is die afgelope tyd deur polisielede by padblokkades ingelig dat hulle nie vuurwapens wat as sport- of jagwapens geregistreer is aan hulle mag dra nie.
“Polisielede het in vier gevalle waarvan ons weet, gesê so ’n wapen moet in ’n drasak of ander houer in die voertuig wees,” sê dr. Herman Els, voorsitter van die National Hunting and Shooting Association (Natshoot).
Els het in reaksie op die voorvalle e-pos aan Natshoot-lede gestuur wat wyd op sosiale media geplaas is.
“Ons het ’n regsmening aangevra omdat die vuurwapenwet nie sê hoe so ’n vuurwapen vervoer moet word nie,” sê Els.
Natshoot voel die polisie se optrede maak inbreuk op mense se regte en dat ’n wapeneienaar wat met ’n polisielid terugpraat in ’n moeilike situasie kan beland.
“Ons wil ons lede waarsku om nie daaroor in ’n emosionele stryery betrokke te raak nie,” sê Els.
Hy sê Jan Publiek ken nie die tegniese aspekte van die vuurwapenwet nie, maar dat daar geen wetlike voorskrifte is wat bepaal hoe ’n vuurwapen wat ingevolge art. 15 of 16 van dié wet geregistreer is, vervoer moet word nie.
Vuurwapens wat ingevolge dié artikels geregistreer is, word vir sport en jag gebruik.
Die wet onderskei tussen art. 15-vuurwapens, wat per geleentheid vir jag of sport gebruik word, en art. 16-vuurwapens wat deur toegewyde jagters en sportskuts gebruik word.
Els sê niemand se vuurwapen is gekonfiskeer nie en niemand is in hegtenis geneem nie, maar Natshoot wil vermy dat daar konflik tussen vuurwapeneienaars en die polisie ontstaan. “Ons het ons regspan opdrag gegee om ’n brief aan die nasionale polisiekommissaris te skryf om meer duidelikheid oor die polisie se interpretasie van die wet te kry,” sê hy.
Natshoot beplan ook om ’n regsmening en praktiese riglyne aan sy lede deur te gee sodat daar duidelikheid is oor die vervoer en gebruik van sportwapens wat ook vir selfverdediging gedra word.
“Ons het nog altyd dié kwessie as ’n twispunt gesien,” sê Els.
Volgens Juan Kotzé, Natshoot se regsadviseur, is daar niks in die wet wat ’n vuurwapeneienaar verbied om ’n geregistreerde sport- of jagwapen ook vir ’n ander doel te gebruik of aan sy persoon te dra nie. “Dit is nie duidelik waarom dié polisielede nie die wet reg geïnterpreteer het nie.”