“Moenie soek na geregtigheid in hierdie wêreld nie. As ons na regverdigheid soek, sal ons begin kla en murmureer, ontevrede wees en onsself bejammer. As ons onsself toewy aan Jesus Christus, maak dit nie saak wat met ons gebeur nie, of dit regverdig is of nie.” So sê Oswald Chambers.

Die probleem is dat wanneer die mens ly, is hy so besig met homself en sy eie pyn dat hy God nie raaksien nie.

Job 1:21 lui: Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.

Dit is seker nie die maklikste om met iemand oor sy geloof te praat nie. Ons weet dat alle mense seer beleef, selfs dié wat in ’n diep en persoonlike verhouding met God lewe. Wie van ons het nie al in die lewe seer gekry nie, en dit terwyl ons kinders van die Here is.

Job gryp terug na die verlede en dink aan al die eer en seëninge wat hy ervaar het. Hy onthou die goeie dinge. Job word stil voor die Here.

CS Lewis gee ’n paar wenke ná die dood van sy vrou: Wanneer jou gebede teen die plafon vas slaan en jy alleen en vergete voel terwyl jy jou pyn, die seer, die vrae en selfs die innerlike woede moet hanteer. Kan jy in hierdie krisistyd van jou lewe jou hulpeloosheid erken en soos Job jou “afhanklikheid” by God sit.

Dit is nie wie ek is nie, maar wie God in my lewe is.

Daar kom tye dat ek voel ek is tenagekom, ingeloop, wanneer slegte dinge met my gebeur. Jy voel jy verdien nie wat nou gebeur nie. Wanneer ons troos in die Here vind kan ons getuig dat hierdie tyd net tydelik is en dat dit weer goed sal gaan. Dit is wel seer tye maar die beproewing maak ons sterk in ons geloof.

Die Here hoor en sien my nood raak en Hy sal in my behoeftes voorsien. God is nie net Heer van die goeie tye nie. Die mense wie die Here in hulle lewe ken, weet dat Hy die Here van alle tye is.

  • Met my gebroke hart, kan ek na God roep. Jy mag vir die Here sê hoe jy voel. Vanuit Sy Woord en die werking van die Heilige Gees sal jy troos vind. My gebroke hart kan vertroos word wanneer ek stil word by die Here. Hy is naby dié wat Hom soek!Ds Philip Mc Laren is van die NG kerk Bedelia.

You need to be Logged In to leave a comment.