Waarde van liefde onskatbaar

Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:.


Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:

Daar is tye wanneer skadu’s daal en die duisternis jou lig verdof, maar dan kom medemenslike liefde soos ’n helder ster in die nag.

My horisonne is verbreed deur ’n unieke vroutjie. My vriendin, Zandile.

Ek kry ’n briefie: “Ma’am, ek nooi jou vir appeltert by my huis, nommer 14692 in die township. Ek wil jou aan my kinders voorstel.”

Ek aanvaar die uitnodiging. Hartseer wel in my op oor die omstandighede waarin sy en haar vier kindertjies moet oorleef.

Ek besef opnuut ek moet my seëninge tel, want van swaarkry weet ek niks.

Haar klein sinkhuisie is netjies. Ek ruik rooibostee en appeltert en ervaar liefde, sonskyn en vreugde. Die Bybel lê op ’n tamatiekissie en daar word gebid en gesing. Nog nooit het ek soveel tevredenheid en blymoedigheid in my hart gehad nie. Die vrou met die hart van goud het my geleer dis die klein dinge in die lewe wat saak maak.

Geld en wêreldsgoed het weinig waarde in vergelyking met die liefde wat party mense vir ander het. Zandile, jy het my geleer om te lag en sing en voluit te leef.

Kom ons vat hande en saai liefde. Deur te gee ontvang ons krag. Ons almal smag na versoening. Dis ’n lewenskat wat ons nooit kan koop nie.

Ryklik is die loon van dié wat dit so mildelik versprei.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.