Johan de Lange, Welkom:
Ek is geleer dat as jy ’n rekening vir iemand stuur vir ’n diens wat nie gelewer is nie, pleeg jy bedrog.
Dit is duidelik dat die niemandsraad hulle nie hieraan steur nie.
Bestaan die wet dan nie vir hulle nie, of is dit maar die reëling uit oudergewoonte dat niemand eenvoudig ’n flenter omgee nie?
As die niemandsraad nie weet waaroor dit gaan nie – dit gaan oor die diensfooie wat hulle vir die verwydering van swart asbliksakke het, ’n diens wat klaarblyklik nie meer gelewer word nie, heelwaarskynlik weens iemand se laksheid.
’n Rukkie gelede is daar ’n geweldige ophef gemaak oor 17 vragmotors wat vir dié doel “aangekoop” is.
Ag siestog, dit is seker spooktrokke wat gekoop is, want van ’n spook hoor jy net, jy sien hom glad nie.
Of is die vragmotors dalk in ’n oorsese land gekoop en moet hulle nou self sien hoe hulle oor die oseaan tot hier kom?
Nouja, ons weet almal vragmotors kan nie swem nie, en die oseaan is baie diep. Die vragmotors het seker nou almal verdrink.
Die gevolg hiervan is dat vullissakke ophoop en teen die 380 V-straatkaste van die elektrisiteitsafdeling gepak word. Hier in Dave Frederickstraat is die straatkas al daarmee toegepak.
Ek het dit persoonlik by die elektrisiteitsafdeling aangemeld, en is toe meegedeel dat hulle meer bekommerd is oor die vermiste deure van die straatkas wat geleistamme oop laat as die sakke.
Natuurlik is hier, oudergewoonte, geen afskerming gedoen om mense te waarsku om daar weg te bly nie. Dit is net so gelos.
Sou iemand deur hierdie kas geskok word, kan die niemandsraad sekerlik weet dat ek vir daardie persoon se naasbestaandes in enige hof teen hulle sal getuig.
Die elektrisiteitsafdeling het darem al rekwisiete gelys vir die vermiste deure.
’n Mens kan net hoop dat dit ’n meganiese teendiefstal-meganisme sal insluit om verdere diefstal te voorkom.