Twee skopboxers van Welkom het hul Vrystaatkleure van die Suid-Afrikaanse Skopboks-vereniging (Saka) verwerf en gaan in April aan die nasionale kampioenskap in Potchefstroom deelneem.
Keagan Smith en Valentina Crous, albei leerlinge aan Welkom-Gimnasium, het op Saterdag 27 Januarie aan die Vrystaatse uitdunne van Saka in Bloemfontein deelgeneem.
Keagan, wat voorheen meegedeel het sy groot droom is om aan die Ultimate Fighting Championship (UFC) deel te neem, het in die laeskop-volkontak-afdeling (“low kicks, full contact”) uitstekend gevaar teen skopboksers van Kimberley en Bloemfontein.
Keagan het ook verlede jaar sy presidensiële Protea-kleure in skopboks verwerf en in die Verenigde Koningkryk deelgeneem aan die World Kickboxing Organisation se wêreldkampioenskap, waar hy weggestap het met een silwermedalje en vier bronsmedaljes.
Valentina het in die semikontak-afdeling uitstekend gevaar teen skopboksers van Bloemfontein.
Hierdie twee jong skopboksers het hulle vanjaar by Saka aangesluit.
Albei oefen by die Smitty’s-boksgimnasium in Welkom en word afgerig deur sensei Brendan Davis van Bloemfontein onder die vaandel van die Lengau Martial Arts Academy.
Dit is die heel eerste Vrystaat-span wat onder Saka aan die nasionale kampioenskap gaan deelneem.