Die Vrystaatse regering sal in die huidige boekjaar R32 miljoen aan die nasionale tesourie verbeur weens ‘n gebrek aan finansiële dissipline, ‘n situasie wat onvergeeflik is in ‘n provinsie wat reeds onder druk staan.
Volgens Armand Cloete, VF PLus-lid van die provinsiale wetgewer, is die inligting bekend gemaak tydens ’n vergadering met die finansiële komitee in die Vrystaatse wetgewer waar die komitee die huidige boekjaar se aanpassingsbegroting behandel het.
Ingevolge die Openbare Finansiële Bestuurswet (PFMA) verbeur provinsiale departemente enige fondse wat nie in ’n finansiële jaar bestee is nie.
Die grootste skuld lê by die onderwysdepartement (R18,8 miljoen), gevolg deur landbou en gesondheid, wat onderskeidelik meer as R7,3 miljoen en R4,2 miljoen verbeur.
Met ‘n salarisrekening van R29 miljard wat amper 64% van die totale provinsiale begroting van R45,8 miljard beloop, kry kapitaalprojekte wat veral nuwe infrastruktuur moet bou, niks meer as ‘n halwe kans nie.
Tot dusver is slegs 41% van die infrastruktuurbegroting bestee.
Volgens die Vrystaatse tesourie sal die begrotingstekort van R2,06 miljard vir die huidige boekjaar meer as verdubbel na R5,20 miljard in die volgende boekjaar. Die probleem is nie ‘n tekort aan geld nie, maar ‘n tekort aan bestuur.
“Solank die ANC in beheer van die Vrystaatse beursie bly, sal druk op die Vrystaatse begroting toeneem en geld wat vir skole, paaie en dienste bedoel was, sal verbeur word en uiteindelik in ander provinsies aangewend word,” sê Cloete.


