VS-polisie slaan toe op oortreders

Meer as 890 mense is binne ’n week in die Vrystaat tydens Operasie Shanela in hegtenis geneem.


Meer as 890 mense is binne ’n week in die Vrystaat tydens Operasie Shanela in hegtenis geneem.

Die toewyding van polisiebeamptes het verseker dat die hoëdigtheid en multi-dissiplinêre operasie die veiligheid van dié in die Vrystaat verseker het.

“Inligting wat van die gemeenskap ontvang word, ontbloot steeds dwelmhandelaars in ons gemeenskappe,” sê sers. Mahlomola Kareli, woordvoerder van die Vrystaatse polisie.

Die polisie het tydens die optrede dwelms soos Mandrax, crystal meth (of tik), nyaope en kokaïen gekonfiskeer en 29 vermeende dwelmhandelaars in hegtenis geneem.

Daar is 32 verdagtes vir die besit van gevaarlike wapens in hegtenis geneem, vier vir moord en vyf vir poging tot moord.

Eiendomsmisdade geniet steeds aandag. Die polisie het 25 verdagtes op aanklag van inbraak in hegtenis geneem.

Lede van Kroonstad se hoofwegpatrollie-eenheid het vier verdagtes in hegtenis geneem en koperkabels op die Vredefort-pad herwin.

Geslagsgeweld is aangespreek deur die verspreiding van pamflette en hoë sigbaarheid van polisie-lede in woongebiede in die provinsie.

Vyf verdagtes is vir verkragting in hegtenis geneem, en 129 vir aanranding vasgevat.

Daar is beslag gelê op een vuurwapen.

Tweedehandse winkels is deur die nakomingspan besoek om te verseker dat alle besighede aan die handelswet voldoen.

Lede van die anti-bende-eenheid in die Thabo Mofutsanyane-distriksmunisipaliteit het twee buitelandse burgers in hegtenis geneem en op onwettige sigarette ter waarde van ’n geraamde R1 miljoen in Reitz beslag gelê.

Padblokkades, stop-en-soektogte duur steeds voort op die paaie van die Vrystaat. Verlede week is 19 mense vir dronkbestuur in hegtenis te neem, en ’n verdere 109 is gevang vir oortreding van die padverkeerswet.

Die polisie het 362 verdagtes in hegtenis geneem tydens verskeie opsporingsoperasies regdeur die provinsie.

Lt. genl. Baile Motswenyane, provinsiale kommissaris, was persoonlik in Mangaung Metro en het polisielede geloof omdat hulle voortgegaan het om die veiligheid van hul gemeenskap eerste te stel.

“Hierdie operasies duur voort en die inhegtenisnemings is as gevolg van ’n groeiende vennootskap wat ons met ons gemeenskappe het,” het Motswenyane gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.