VS-polisie slaan toe op misdade in provinsie

Operasie Shanela lewer steeds positiewe uitslae in die Vrystaat, en oor die afgelope 14 dae is 2 152 verdagtes van verskillende misdade aangekla.


Operasie Shanela lewer steeds positiewe uitslae in die Vrystaat, en oor die afgelope 14 dae is 2 152 verdagtes van verskillende misdade aangekla.

Gedurende dié tydperk het intelligensie-geleide operasies verseker dat drie verdagtes in hegtenis geneem is en daar beslag gelê is op agt onwettige vuurwapens.

Lede van Trompsburg se snelwegpatrollie-eenheid het een verdagte gestop en vir die onwettige besit van perlemoen ter waarde van na raming R2 miljoen, in hegtenis geneem.

Bothaville-polisie het ’n man op die R30-pad vir die besit en handel van dagga in hegtenis geneem nadat sakke daarvan in sy voertuig gevind is.

Die Odendaalsrus-gemeenskap het die polisie gehelp met die opsporing en verwydering van crystal meth, of tik, ter waarde van na raming R1,2 miljoen.

Die Smithfield-polisie het saam met plaaslike boere vyf verdagtes in hegtenis geneem, en tien gesteelde skape teruggevind.

In Bloemfontein het die blitspatrollie- en motorfietseenheid gesteelde voertuie en gesteelde besittings teruggevind nadat drie verdagtes vir huisbraak en diefstal in hegtenis geneem is.

“Hierdie is ’n ware weerspieëling van goeie polisiewerk, bygestaan deur besorgde gemeenskapslede,” sê kapt. Loraine Earle, woordvoerder vir die Vrystaatse polisie.

Die polisie het verder daarin geslaag om 25 roofverdagtes, sewe moordverdagtes en ’n verdere 20 vir poging tot moord in hegtenis te neem. Hulle het ook 13 vermeende verkragters en 276 verdagtes van aanranding (met die doel om ernstig te beseer) in hegtenis geneem.

Groot deurbrake is regoor die Vrystaat verlede week tydens Operasie Shanela gevier. Die Bothaville-polisie het ’n man op die R30-pad vir die besit en handel van dagga in hegtenis geneem nadat groot hoeveelhede daarvan in sy voertuig gevind is.Foto: SAPD

Daar is 50 verdagtes vir huisbraak in hegtenis geneem, terwyl 126 vir die besit van dwelms en dwelmhandel gevang is.

Samewerking met ander staatsdepartemente het ook positiewe resultate opgelewer. Met dié samewerkings is 268 onwettige immigrante in hegtenis geneem nadat immigrasiebeamptes gevind het dat hulle nie die nodige dokumente het nie. Daar is ook 878 gesoekte verdagtes tydens die opsporingsoperasie wat deur lede van speurdienste van verskillende distrikte uitgevoer is, in hegtenis geneem. Tydens die operasies is daar ook 87 bestuurders vir dronkbestuur toegesluit.

Earle sê deur gereelde patrollering en stop-en-deursoekpunte is 101 verdagtes vir die besit van gevaarlike wapens in hegtenis geneem.

“Een van die prestasies deur ons speurders is vandeesweek beleef nadat die 26-jarige Mokwantsi Kwanele Mfuku van Thabong tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is vir die beskadiging van infrastruktuur nadat hy ’n 12m-lange koperkabel gesteel het terwyl Eskom-werknemers besig was om elektrisiteit te herstel in Thabong.”

Lt genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse kommissaris, het gesê dat die polisie in die Vrystaat 800 nuwe konstabels aangestel het, en met die verhoogde mannekrag sal die polisie voortgaan om dwelmhandel in die provinsie te beveg.

“Dit geld ook vir alle kriminele elemente in ons provinsie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.