Die SAPD se opgeskerpte optrede tussen verskeie taakspanne gaan oor die Vrystaat heen voort wat steeds goeie resultate oplewer.
Van 28 Mei tot 4 Junie is meer as 750 verdagtes in hegtenis geneem. Die fokus was op misdade soos die besit van onwettige vuurwapens.
Tydens dié optrede is twee mense vir die besit van ammunisie gearresteer en 67 mense is vir die besit van gevaarlike wapens in hegtenis geneem, 52 vir dwelmhandel en twee vir die besit van onverwerkte goudstof.
Sewe mense is in hegtenis geneem vir moord, nege vir poging tot moord, 52 vir bestuur onder die invloed, vyf vir gewapende roof, een vir verkragting, 20 vir inbrake, 167 vir aanranding en 30 vir opsetlike saakbeskadiging.
Die polisie het 122 verdagtes in hegtenis geneem vir die oortreding van die immigrasiewet.
Speurders het 130 verdagtes in hegtenis geneem tydens die opsporings-operasie. Meer as 80 ander is in hegtenis geneem vir misdade soos oortredings van die padverkeerswet.
Die polisie het beslag gelê op 41,8 kg koper, 13 rondtes ammunisie en dwelms soos dagga, kokaïen, crystal meth, heroïen, nyaope en Mandrax.
Twee voertuie wat tydens ’n misdaad gebruik is, is ook deur die polisie gekonfiskeer.