Die DA het Woensdag ’n mosie by die Vrystaatse hooggeregshof ingedien waarin die hof se ingryping in die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit gevra word.
Hierdie mosie is gebring om die provinsiale, alternatiewelik nasionale regering, te verplig om in te gryp ingevolge die Grondwet. Hulle moet gevolglik ’n werkbare finansiële herstelplan op lê.
Mxolisi Dukwana, Vrystaatse premier en politieke hoof van die provinsiale uitvoerende bestuur, is die eerste respondent.
“Die DA sal eers ’n verklarende bevel aanvra,” sê George Michalakis, DA-LP en lid van die Nasionale Raad vir Provinsies.
Die bevel sluit in dat die munisipaliteit sy pligte ingevolge die grondwet verbreek het om basiese dienste volhoubaar aan die gemeenskap te verseker. Hulle het ook nie sosiale en ekonomiese ontwikkeling daargestel om sodoende ’n veilige en gesonde omgewing te bevorder nie.
Verder:
- dat die munisipaliteit versuim het om sy administrasie en begrotings- en beplanningsprosesse te struktureer en bestuur om prioriteit te gee aan die basiese behoeftes van die gemeenskap, en om die sosiale en ekonomiese ontwikkeling van die gemeenskap te bevorder;
- dat die munisipaliteit, as gevolg van ’n krisis in sy finansiële sake, in ernstige en volgehoue ??wesenlike verbreking van sy verpligtinge is om basiese dienste te lewer en om sy finansiële verpligtinge na te kom;
- dat die premier, die LUR vir die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die provinsiale uitvoerende bestuur van die Vrystaat versuim het om hul pligte na te kom om in die munisipaliteit in te gryp ingevolge artikel 139(5) van die Grondwet; en
- dat die minister van Cogta, die president en die nasionale dagbestuur versuim het om hul pligte na te kom om in die munisipaliteit in te gryp ingevolge die artikel seksie 7; en
- dat bogenoemde optrede ongeldig is ingevolge artikel 172(1)(a) van die Grondwet in die mate van die teenstrydigheid met artikels 139(5), 139(7) en 153(a) van die Grondwet.
Van die talle probleme wat deur die ANC se wanbestuur van Matjhabeng oor etlike jare veroorsaak is, sluit in die feit dat die munisipaliteit in die laaste boekjaar ’n tekort van net meer as R1 miljard gely het en dat sy laste en sy bates met byna R8,5 miljard oorskry.
Verder skuld die munisipaliteit Eskom R4 763 944 657 en die Waterraad R4 897 035 157. Hy ly ook elektrisiteitsverliese van meer as R150 miljoen per jaar en waterverliese van byna R324 miljoen per jaar terwyl toelaes wat bedoel is vir infrastruktuur-onderhoud van meer as R191 miljoen onderbestee word.
Om die korrupsie wat binne die finansiële administrasie van die munisipaliteit voorkom uit te lig, het dit ongemagtigde uitgawes van R1 474 880 000 in die boekjaar aangegaan, vrugtelose en verkwistende uitgawes van R180 736 297 en onreëlmatige uitgawes van R307 92 701 vir dieselfde tydperk.
Hierdie syfers is verstommend en trek ’n direkte lyn tussen die lyding van inwoners wat nie basiese dienste ontvang nie en die ANC se onvermoë om doeltreffend te regeer.
Vervolgens sal die DA die hof ingevolge artikel 139(5) vra om die provinsiale regering te beveel om ’n finansiële herstelplan vir die munisipaliteit in te stel om sy finansiële verpligtinge na te kom en om basiese dienste aan inwoners te verskaf. Die bevel sal ook die munisipaliteit verplig om stappe te neem om die plan te implementeer en, indien dit versuim om dit te doen, dat dit óf ontbind sal word óf dat die provinsiale regering verantwoordelikheid vir die implementering van die herstelplan aanvaar.
Dit moet beklemtoon word dat as dit nie vir die regerende party se korrupsie en wanadministrasie was nie, sou inwoners nie moes ly sonder water, riool wat in hul huise stort en werkverliese weens ‘n gebrek aan belegging nie.