Drie top Vrystaatse amptenare, insluitend ’n LUR, is deur die Valke vir bedrog, korrupsie, geldwassery en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur in hegtenis geneem.
Die Valke, gebaseer in Bloemfontein, het die optrede gelei.
Vrydag het Motshidise Agnes Koloi (52), die Vrystaatse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Vusimuzi Rajuili (54) die hoofdirekteur vir menslike nedersetting en die politieke adviseur van Matjhabeng se burgemeester, Serake Joseph Leeuw (62), in die Kroonstad-landroshof verskyn.
Die saak is tot 4 Desember uitgestel.
Hulle is Donderdagmiddag, 12 Oktober, in hegtenis geneem.
Die saak spruit uit ’n voorval in 2017 toe die LUR nog die burgemeester van die Moqhaka-munisipaliteit was.
Daar word beweer dat die drie verdagtes saamgespan het om R150 000 wat aan Moqhaka-munisipaliteit behoort het, oor te neem onder die dekmantel dat die geld bestee sou word aan ’n klankstelsel wat tydens ’n Nelson Mandela-gedenklesing gebruik sou word.
Hierdie gebeurtenis het nooit plaasgevind nie, maar die geld is uitbetaal.
Rajuili en Koloi is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat en Leeuw op borgtog van R5000. Deel van hul borgvoorwaardes is dat hulle nie met die ondersoek mag inmeng nie.