Die polisie in die Vrystaat doen ’n beroep op die publiek om geskikte honde aan hulle te skenk om die operasionele K9-kapasiteit te vergroot.
Goeie kwaliteit, gesonde en goed geteelde honde word dringend benodig.
Polisiehonde word gebruik om proaktiewe en reaktiewe dienste in die polisie te lewer.
Hulle word ontplooi vir narkotiese opsporing, sowel as die opsporing van plofstof, beskermde spesies, biologiese liggaamsvloeistowwe, geldeenhede, karkasse en velle, die opsporing en aankeer van gevaarlike verdagtes en die bymekaarmaak van skape tydens veediefstalondersoeke. Die honde help ook met brandondersoeke
Die volgende honderasse sal aanvaar word:
Skaaphonde, Duitse herdershonde, Belgiese herdershonde, Labradors, boerboele, rottweilers, golden retrievers, Duitse korthaar-pointers en Jack Russells.
Hulle moet tussen nege maande en drie jaar oud wees. Kruisrasse sal slegs aanvaar word indien hulle aan die polisie se streng organisatoriese vereistes voldoen. Honde moet selfversekerd, energiek en nie bang wees vir mense of harde geluide nie. Dié honde moet in staat wees om aan ’n leiband te loop en ’n sterk en egalige temperament hê.
Potensiële skenkers kan die polisie se K9 en berede eenheid op weeksdae tussen 08:00 en 16:00 kontak by 051-412-6678 of 082-565-9674, of per e-pos by MalefaneML@saps.gov.za.
Die volgende K9-eenhede kan ook gekontak word volgens die aangeduide lys van gemagtigde K9-eenhede wat honde as skenkings kan aanvaar:
Die Bloemfontein K9 Eenheid by 082-821-0195, of die Welkom K9 Eenheid by 082-041-3079.
’n Afspraak sal dan gemaak word om die hond by die skenker se woning te assesseer om vas te stel of die hond geskik is. Indien die hond geskik is, sal ’n kontrak geteken word. Honde word onvoorwaardelik aan die polisie geskenk.
Geskikte honde sal na die polisie se K9-akademie in Roodeplaat geneem word, waar hulle deur die polisie se veeartsenydienste ondersoek sal word, Hier sal hulle ingeënt word en ook met ’n mikroskyfie gemerk word. Hulle sal dan vir 21 dae in kwarantyn geplaas word en daarna gesosialiseer word en aan ’n vooropleidingsprogram onderwerp word, en deur ’n paneel kundiges beoordeel word om geskiktheid vir K9-opleidingsdoeleindes te bepaal.
Opgeleide honde sal operasioneel as patrollie- of snuffelhond ontplooi word. Daar is ook ’n behoefte in die Vrystaat vir biologiese opsporing, brandopsporing, soek-en-redding, patrollie, spoorsnyer, narkotika, plofstof en snuffelhonde vir die opsporing van beskermde of bedreigde spesies.
.