Gerda Steyn het die meeste van haar voorbereiding vir vanjaar se Olimpiese marathon in die Franse Alpe gedoen.

Van die bitter koue en dun lug van die Franse Alpe tot die geweldige hitte en humiditeit van Dubai – Gerda Steyn het alles gedoen wat sy glo nodig is om vir die Olimpiese marathon in Tokio voor te berei.

Steyn, wat op die oomblik nog in Dubai is, sal op 7 Augustus haar droom bewaarheid deur aan die vrouemarathon op die Olimpiese Spele deel te neem.

Sy sê sy is tevrede met haar voorbereiding en dat alles tot nou toe goed verloop het.

Gerda Steyn het die afgelope vyf dae in Dubai geoefen voordat sy binnekort na Tokio vertrek om op 7 Augustus aan die marathon deel te neem.

“Ek sien nou baie uit.”

Gerda Steyn koel af in die Dubaise hitte met sy hoë humiditeit, waar sy tans besig is om haar voorbereiding vir die Olimpiese Spele af te sluit.

Sy en haar man, Duncan Ross, was sewe weke lank in die Alpe. Dit is waar sy die meeste van haar voorbereiding gedoen het.

Sy sê sy het haarself gereeld daaraan herinner om nie net op die Spele te fokus nie, maar om die hele aanloop tot Tokio te geniet.

Steyn oefen die afgelope paar dae in Dubai, en sê dit was van die begin af haar plan om haar voorbereiding in Dubai af te sluit. Dubai is warmer as Tokio en die humiditeit is meestal 100%.

Sy sê dit bly maar teleurstellend dat haar geliefdes nie daar kan wees nie.

“Duncan was met elke oefenlopie daar vir my. Hy was deel van my reis na die Spele en ek sou hom graag by die eindstreep wou hê, maar ons het geweet dit is hoe dit sal wees.”

Sy sê haar familie het beplan om in 2020 in Japan vakansie te hou en haar by die marathon te ondersteun.

“Al daardie planne kon nie plaasvind nie, maar ek weet hulle dra my in hul hart en ek dra hulle in my hart.”

Sy sê daar is baie vroue met ’n baie goeie kans en sy kan net op haar eie voorbereiding vertrou.

“Ek sien daarna uit om te kyk hoe dit gaan uitspeel en om die beste uit myself te kry.”

Steyn sê die atlete van Oos-Afrika bly die gunstelinge, maar daar is goeie atlete van ­oor die wêreld heen.

“Almal wat op die wegspringstreep staan, het ’n kans.”

Sy sê die uitstel van die Spele het ’n groot invloed op almal se planne gehad, en ’n mens moes jou kop op die regte plek hou.

“Niemand het toe geweet ons gaan vanjaar nog met inperkings sit nie,” sê sy.

Die marathons wat sy gedurende die inperking gehardloop het, het haar op ’n manier vir die Spele voorberei omdat daar ook nie toeskouers was nie.

“Almal besef nou weer hoe spesiaal groot byeenkomste is en dat atlete dit nie net as vanselfsprekend moet aanvaar nie.”

Steyn het haar eerste groot wedloop in 2018 gewen toe sy die Twee Oseane-wedloop gewen het.

In 2019 het die sportwêreld van haar kennis geneem toe sy die Twee Oseane én die Comrades in een jaar gewen het en ’n nuwe rekord in die Comrades opgestel het.

Haar droom was toe om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer – en op Saterdag 7 Augustus sal dié plaasmeisie van Bothaville wegspring met die wete dat nie net haar familie haar in hul hart dra nie. Die hele land sal hoop dat dié goue meisie van die Vrystaat ’n welverdiende medalje huis toe bring.

Op Saterdag 7 Augustus sal dié plaasmeisie van Bothaville wegspring met die wete dat nie net haar familie haar in hul hart dra nie. Die hele land sal hoop dat dié goue meisie van die Vrystaat ’n welverdiende medalje huis toe bring.

You need to be Logged In to leave a comment.