Tussen 2 en 16 Oktober het die Vrystaatse polisie mense vir verskillende misdade in hegtenis geneem, en die doeltreffendheid van die hoëdigtheid-operasies het tot dusver vennootskapspolisiëring laat opvlam.Foto: SAPD


Sedert die aanvang van die multidissiplinêre hoëdigtheid-operasie, Operasie Shanela, is daar al 1 466 mense regdeur die provinsie in hegtenis geneem.

Tussen 2 en 16 Oktober het die Vrystaatse polisie mense vir verskillende misdade in hegtenis geneem en die doeltreffendheid van die hoëdigtheid-operasies het tot dusver vennootskapspolisiëring laat opvlam.

“Dit is nodig is om misdaad in dié kol te knyp,” sê sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder in die Vrystaat.

Die handhawing van padblokkades sowel as stop-en-soek-optredes duur regdeur die provinsie voort.

Tydens die afgelope optrede is daar vyf mense vir die oortreding van die vuurwapenwet in hegtenis geneem, en 56 mense is vir die besit van ’n gevaarlike wapen vasgevat.

Vir dwelmverwante misdade is 77 verdagtes vir handel en besit van dwelms in hegtenis geneem.

“Kontakmisdade bly ’n doring in die vlees vir die provinsie,” sê Kareli.

Verder is daar 12 verdagtes in verband met roof in hegtenis geneem, met ’n verdere 23 vir moord, 11 vir poging tot moord, 17 vir verkragting en 372 verdagtes vir aanranding in hegtenis geneem.

Intelligensie-geleide inligting het dit vir speurders moontlik gemaak om verdagtes op te spoor.

“Daar is 652 verdagtes vir misdade soos moord, verkragting, poging tot moord, diefstal, aanrandings en rooftogte vasgevat,” sê hy.

Deur ’n multidissiplinêre benadering is 132 mense vir oortreding van die padverkeerswet aangekla, terwyl 88 onwettige immigrante in hegtenis geneem is en deur die immigrasiebeamptes verwerk is.

You need to be Logged In to leave a comment.