’n Man wat boere in Bultfontein met R18 miljoen bedrieg het, is skuldig bevind en tot agt jaar direkte tronkstraf gevonnis.
Die beskuldigde, Prinsloo Phillippus Pretorius (51), en sy maatskappy Eco Grain BK het Dinsdag, 22 November, voor die Bloemfonteinse hooggeregshof verskyn waar hy skuldig bevind en tot agt jaar direkte gevangenisstraf gevonnis is vir bedrog en oortreding van die Wet op Beslote Korporasies.
Sy skuldigbevinding spruit uit die voorval wat van Oktober 2019 tot Januarie 2020 plaasgevind het.
“Die slagoffers het mielies aan Pretorius verkoop, wat dan die mielies van hul plase sou laai en aan die silo’s verkoop. Die ooreenkoms was dat hy, nadat hy die mielies verkoop het, hulle geld aan hulle sou betaal het,” sê kapt. Christopher Singo, provinsiale woordvoerder van die Valke.
Singo sê Pretorius en sy maatskappy het 4 057.235 ton mielies van die boere in Bultfontein ontvang, maar hulle het nie hul geld ontvang soos ooreengekom nie.
“Toe die boere nie betaal is nie, het hulle navraag gedoen by die entiteite waar die mielies vermoedelik afgelewer is. Hulle het ontdek dat van die mielies onder die beskuldigde se naam afgelewer is asook ander entiteite wat aan die slagoffers onbekend is. As gevolg van hierdie bedrieglike aktiwiteite was die slagoffers benadeel en het ’n totale verlies van meer as R18 miljoen gely,” sê Singo.
Die saak is by die Valke se eenheid wat ernstige kommersiële misdaad in Bloemfontein ondersoek, vir verdere ondersoek aangemeld. Pretorius is op 8 Februarie 2021 in hegtenis geneem.