Die direktoraat van prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke) ondersoek 60 sake van bedrog en geldwassery waarvan 11 op die hofrol is, 12 reeds by die staatsaanklaer vir beslissing ingedien is, en 37 ander sake in die Vrystaat ondersoek word.
Dít is die hoogste aantal sake wat vir enige provinsie ondersoek word,” sê David van Vuuren, DA-lid van die openbare-rekeningekomitee (Propac) vir die Vrystaatse wetgewer.
Hierdie verstommende statistiek het aan die lig gekom tydens ’n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) oor korrupsieverwante sake in munisipaliteite.
Die totale aantal ondersoeke is gelykstaande aan sowat R79 miljoen wat deur die Valke ondersoek word. Die DA in die verskillende munisipaliteite en DA-lede in die Vrystaatse wetgewer wat op die komitee van openbare rekeninge sit, is vol vertroue dat dit net die oortjies van die seekoei is en dat die Valke in die nabye toekoms meer korrupsie in munisipaliteite moet en sal ontbloot, sê Van Vuuren.
Maluti-a-Phofung (voormalige Qwaqwa), die land se mees omstrede en waarskynlik swakste munisipaliteit, het 13 sake wat ondersoek word, die hoogste aantal ondersoeke van enige munisipaliteit in die Vrystaat.
Die groot aantal ondersoeke wat in die Vrystaat aan die gang is, is ook ’n bewys van die nalatenskap wat Ace Magashule en sy RET-faksie in die provinsie gelaat het, beweer Van Vuuren.
Hy sê baie van die voormalige premier se kaders bly in strategiese posisies in Vrystaatse munisipaliteite.
“Dit het gelei tot ’n immer-teenwoordige kultuur van ’n gebrek aan gevolgbestuur wat ons munisipaliteite in die verlate staat geplaas het. Daar word verder kennis geneem dat die ouditeur-generaal (OG) se kommer oor die gebrek aan gevolgbestuur en die gebrek aan interne beheermaatreëls steeds geïgnoreer word,” sê hy.
Michal Groenewald, VF Plus-LP en Cogta se hoofwoordvoerder, het gesê die omvang van munisipale korrupsie en bedrog onder verál ANC-beheerde munisipaliteite is tydens die vergdering weer beklemtoon.
Hy sê op ’n nasionale vlak word 647 sake van bedrog, korrupsie en geldwassery in munisipaliteite ondersoek.
Honderdmiljoene rande se belastinggeld is ter sprake. ANC-beheerde munisipaliteite in verál die Oos Kaap (46 sake), die Vrystaat (60 sake) en Noordwes (64 sake), ding skynbaar mee om die titel vir die provinsie met die mees korrupte munisipaliteite.
“Dit is skreiend dat hierdie, meesal plattelandse munisipaliteite, skynbaar deur ANC-kaders geteiken word om hulself te verryk ten spyte daarvan dat inwoners reeds gebuk gaan onder ? verval in dienslewering weens onder meer ? lae inkomste,” sê hy.
Só is munisipaliteite soos byvoorbeeld Maluti-a-Phofung in die Vrystaat (13 sake), en Matlosana (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein) in Noordwes (14 sake) reeds byna oor die afgrond gestroop van munisipale fondse en bates. Dit is geen wonder dat hierdie munisipaliteite gekenmerk word deur ? verval in dienslewering en infrastruktuur nie.
“Dit blyk ook uit die voorleggings dat hierdie stand van sake slegs die punt van die ysberg is,” sluit Van Vuuren af.