Vroue van Bothaville agter tralies ná poging van mensehandel met babaseuntjie

Twee vroue van Bothaville is skuldig bevind aan mensehandel nadat hulle in September 2022 gepoog het om met ’n pasgebore babaseuntjie handel te dryf.


Twee vroue van Bothaville is skuldig bevind aan mensehandel nadat hulle in September 2022 gepoog het om met ’n pasgebore babaseuntjie handel te dryf.

Die ma van die kind, Nthoba Rebecca Mahoa (31), en die vrou wat die kind wou koop, Happiness Mosedi (29), is albei skuldig bevind aan mensehandel, en is deur die Bothaville-streekhof op 24 Mei gevonnis.

Hulle het elk ’n boete van R60 000 of drie jaar gevangenisstraf ontvang wat vir vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat hulle nie aan dieselfde oortreding skuldig bevind word gedurende die tydperk van skorsing nie.

“Op 12 September 2022 het Rebecca geboorte geskenk aan ’n babaseuntjie. Sy het kort daarna op Facebook geadverteer dat sy haar baba vir aanneming beskikbaar wil maak.

Haar medepligtige, Happiness, het belangstelling getoon en die ma vier paaiemente van R1 500 belowe om die kind aan te neem. Om haar betroubaarheid te bewys, het Happiness gelieg en haarself as ’n mediese dokter voorgegee.

Talle WhatsApp-boodskappe is tussen die handelaars uitgeruil en reëlings om te ontmoet is gemaak,” sê lt kol. Zweli Mohobeleli van die Valke.

Toe dit tyd was om die baba oor te gee, het Rebecca koue voete gekry en vir haar bure vertel dat sy nie meer gemaklik was om die baba weg te gee nie. Die bure het lede van Welkom se Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek ingelig.

’n Vinnige verifikasie van Happiness aan die lig gebring dat sy gelieg het dat sy ’n mediese dokter is.

Die baba is gered, en na ’n plek van veiligheid geneem, en die twee is vroue in hegtenis geneem.

Die Vrystaatse hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke), genl.maj Mokgadi Bokaba wil ma’s waarsku om die korrekte aannemingsprosedures te volg.

“Die ma moes die hospitaal gevra het waar sy geboorte gegee het om haar by te staan. Die gebruik van sosiale media stel ma en kind bloot aan mensehandel. Roofdiere gebruik gewoonlik sosiale media om hul slagoffers te lok,” het sy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.