’n Voormalige voorsitter van die Welkom Retirement Village-raad moet haar huis in dié oord vir bejaardes in die Vrystaatse Goudveld teen Vrydag ontruim nadat haar aansoek om verlof tot appèl teen ’n uitsettingsbevel misluk het.
Waarnemende regter André Berry het in die hooggeregshof in Bloemfontein beslis daar is geen redelike vooruitsigte dat Beverley-Ann Shahia se beoogde appèl teen sy vroeëre bevel – waarin hy haar ook tot onwettige bewoner van die oord verklaar het – sal slaag nie.
Sy moet ook die regskoste vir haar mislukte aansoek betaal.
Die uitsettingsbevel wat vroeg in Februarie teen dié 72-jarige weduwee toegestaan is, volg op jare lange onmin tussen haar en die oord se raad, waarin beskuldigings van nepotisme en selfs diefstal en bedrog gemaak is.
Die raad het haar in hofstukke daarvan beskuldig dat sy onmin en ontwrigting veroorsaak en ’n moeilikheidmaker is.
Teen die einde van Julie verlede jaar was sy meer as R58 000 agterstallig in die maandelikse heffings wat sy vir haar aftreehuis moet betaal.
Shahia, wat sedert 2010 in die oord woon, het geweier om die heffing te betaal en het net soveel betaal as wat sy gemeen het reg was. Sy was sowat vyf jaar lank tot 2015 voorsitter van die raad van die oord.
Verder was daar ook ’n geskil oor die bedrag wat sy meer as die ander vir versekering moes betaal.
Luidens die ooreenkoms vir lewenslange verblyf, het die raad die reg om inwoners se verblyf op te skort indien hulle nie die voorwaardes van die ooreenkoms nakom nie.
Berry het gesê die langdurige rusie tussen die partye het ondraaglik geraak en het ’n regstreekse invloed op die raad se vermoë gehad om die oord tot voordeel van al die inwoners te bestuur.
– Mike van Rooyen


