Vrou bieg ná ’n paar jaar

’n Reisagent wat in 2018 groot ondersteuning van die Welkomse gemeenskap ontvang het nadat haar blyplek afgebrand het, het Woensdag skuld erken op aanklagte dat sy self die huis laat afbrand het.


’n Reisagent wat in 2018 groot ondersteuning van die Welkomse gemeenskap ontvang het nadat haar blyplek afgebrand het, het Woensdag skuld erken op aanklagte dat sy self die huis laat afbrand het.

Retha Fourie (45) het saam met haar man, Hennie (45), en hul drie minderjarige kinders in die huis gebly. Rondom die tyd van die brand was die Fourie-egpaar reeds van mekaar vervreem en Hennie, ’n rekenmeester, het in Kaapstad gebly.

Retha het op 7 September in Welkom se streekshof voor streekslanddros Susan Meintjies verskyn nadat Hennie private vervolging teen haar laat instel het.

Assessors en polisielede het die huis ná die brand in 2018 besoek.

Retha wou glo nie haar samewerking gee nie en die versekeringsmaatskappy het geweier om die eis uit te betaal.

Omstandigheidsgetuienis het volgens die polisieondersoek daarop gedui dat Retha die huis laat afbrand het.

’n Prokureur van Welkom, André Podbielski, sê Hennie het hom genader nadat die staat besluit het om Retha nie te vervolg nie.

Hy sê vertoë is aan die direkteur van openbare vervolging gerig om te vervolg. Nadat die staat opsluit teen vervolging besluit het, is ’n nolle prosequi-sertifikaat uitgereik.

André kon met die private vervolging begin en het ’n advokaat, Hendrik Potgieter, aangestel om Retha aan te kla.

Sy is aangekla van sameswering om ’n misdaad te pleeg, brandstigting, kwaadwillige saakbeskadiging, bedrog en regsverydeling. Sy het skuld erken op die aanklagte van brandstigting en regsverydeling.

Veiligheidskameras in Langenhovenstraat het ’n motor, wat aan die beskrywing van Retha se voertuig voldoen, kort voor die brand afgeneem waar dit by die huis stilhou. André sê op die videomateriaal kan gesien word hoe iemand aan die passasierskant van die motor uitklim en die erf binnegaan. ’n Ruk later is die motor weer te sien waar iemand voor die huis daarin klim.

’n Skerp flits, soos dié van ’n ontploffing, is ook op kamera vasgelê.

Volgens die klagstaat het Retha met Heinrich de Wet, ’n susterskind, saamgesweer om die huis af te brand. Heinrich, ’n kankerlyer, is ’n maand ná die voorval dood.

Retha het kort nadat die brand ontstaan het kapt. Andries Coetzee van Welkom se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gebel en gevra dat mense help om die brand te blus. Sy het verduidelik dat sy in Wesselsbron by haar ouers is, maar selfoonrekords het later aangedui dat sy in Welkom was.

Retha is van regsverydeling aangekla omdat sy Andries mislei het.

André sê omdat Retha skuldig gepleit het, is die staat ingevolge die Strafproseswet verplig om weer die vervolging oor te neem.

Retha sal Maandag (19/09) haar pleitverduideliking by die hof indien, waarna ’n datum vir vonnisoplegging vasgestel sal word.

André sê hy gaan namens sy kliënt die hof vir ’n skadevergoedingsbevel vra. Hennie moet die huispaaiement van R8 000 aanhou betaal, omdat die versekeringseis nie geslaag het nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.