’n Vrou het Dinsdagaand (02/08) doodgebrand toe die asbeshuisie waarin sy gewoon het tot op die grond afgebrand het.
Dié asbeshuisie is by die ou Telkom-gebou in Vierdestraat, Welkom geleë.
Die brand het omstreeks 18:45 ontstaan.
Monica Marais (65) het volgens ooggetuies om hulp geroep, maar die vuur was te warm en te erg, en niemand kon by haar uitkom om haar te help nie.
’n Kennis van Marais sê daar was nie toegang tot water nie en sy het in haar bed dood gebrand.
Hy sê die asbeshuisies waar die brand ontstaan het, is deel van die ou munisipale gebou, waar behoeftige mense woon wat geen ander heenkome het nie.
“Met die aankoms van die polisie was die Hazquip Private Brandweervoertuig reeds op die toneel en hulle het die brand geblus. Die verbrande liggaam is bevestig as dié van Monica Marais. Sy het alleen gebly”, sê kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die Lejweleputswa SAPD.
Marais was bekend as ’n motorwag in Welkom.
’n Geregtelike nadoodse ondersoek sal gedoen word.