Ons lees in Lukas 15 dat dit duidelik was dat die jongste seun nie na ’n eenvoudige plaashuis terugkeer nie.
Die pa is ’n ryk man, met net die beste klere, vetgemaakte vee, baie werkers en ’n ruimte om ’n fees te kan hou.
Ons Hemelse Vader is ook ryk aan goedheid en barmhartigheid en wat graag aan sy kinders die rykdom van sy heerlikheid wil bewys.
Die pa in die gelykenis gee nie eers vir sy seun kans om jammer te sê nie.
Hy is so bly dat sy seun lewend terug is dat hy nie eers wag vir ’n verskoning nie.
Hy wil vir sy seun net die beste gee.
In Joh. 10:10 het Jesus gesê: “Ek het gekom sodat julle ’n lewe in oorvloed kan hê”. God wil vir ons ook die beste gee.
Die jongste seun is bereid om soos ’n werker behandel te word maar die pa gee opdrag vir die beste klere, ’n ring aan sy vinger en skoene vir sy voete om hom te eer as sy geliefde seun.
Kaal voete was ’n aanduiding van armoede en dikwels van slawerny.
God se kinders het almal skoene.
Ons Hemelse Vader klee sy kinders met die tekens van vryheid, as nuwe mense in Christus.
Die pa wil sy vreugde met die jongste seun, die oudste seun en die werkers deel.
Dit is iets wat die hele familie met dankbaarheid moet deel.
Dit is die vreugde van die pa; wanneer jy sien hoe jou kind huis toe kom, na al die seer, die verwoesting en angs van die wêreld.
Is dit nie wonderlik om saam met iemand te leef, te werk en kerk toe te gaan wat die mooi van die lewe raak sien nie. Ons leef in donker tye, negatiewe tye waarin mense vir hulself lewe.
Die beloning as ’n mens vreugde kies, is die vreugde self.
God se vreugde vind ons deur deel te wees van die huishouding van God omdat ons reeds aan die koninkryk van vreugde behoort.
Elke keer as ons vreugde kies bring dit meer vreugde mee, en bied meer rede om die lewe ’n ware fees in die Vaderhuis te maak.
As die teruggekeerde kind van God wat in die Vaderhuis leef, kan ek God se vreugde my eie maak.
Dit is my roeping om pa te wees wat ander verwelkom en ’n fees te vier want kinders van God het rede om fees te vier.
- Leef met oorgawe en gee jou beste en getuig van God se liefde in 2025. Ds Philip Mc Laren is van die NG kerk Bedelia.