Is jy bang vir slange of dalk spinnekoppe, of raak jy angstig as jy jou huis moet verlaat? Is dit wat jy voel, ’n vrees of ’n fobie? Is daar ’n verskil? Afrikaans.com het hieroor gaan oplees en verduidelik dit soos volg.
Wat is ’n fobie?
Volgens ’n blog op wieisek.co.za is ’n fobie ’n angsversteuring en kom dit gewoonlik voor as ’n volgehoue, onlogiese vrees vir ’n spesifieke voorwerp of situasie.
Die kliniese sielkundige, Louis Awerbuck, sê verder in ’n 2017-blog op Netwerk24 in die tydskrif Sarie, dat die persoon bewus is dat die vrees onlogies en onrealisties is. Tog sal die persoon alles in sy vermoë doen om die situasie of voorwerp te vermy. As hy nie uit die situasie kan ontsnap nie, “ervaar hy intense ongemak of angs en sukkel die persoon om sy aktiwiteit te voltooi”.
Die goeie nuus is dat ’n fobie behandel kan word, mits dit deur ’n kundige as sodanig gediagnoseer word en die toepaslike behandeling toegepas word.
Wat is vrees?
Vrees, volgens die kliniese sielkundige Louis Awerbuck in dieselfde 2017-blog, “is gewoonlik gekoppel aan ’n spesifieke insident (soos ’n hond wat jou gebyt het en nou is jy bang vir honde) of iets realisties soos ’n virus-epidemie”. Die vrees het dus ’n rede en kan dan ook op realistiese wyse hanteer word.
Drie hoofkategorieë van fobies
- Spesifieke fobie: Die persoon is bang vir iets spesifiek, soos slange, hoogtes, nou plekke en so meer.
- Sosiale fobie: Dit word ook sosiale angsversteuring genoem. Die persoon het ’n vrees vir ander mense of sosiale situasies en is so verleë en selfbewus in ander se teenwoordigheid dat hulle alles sal doen om die situasie te vermy of om nie met die persoon te praat nie.
- Agorafobie: Die persoon is vreesbevange om sy huis of “veilige” plek te verlaat. Dit kan gepaard gaan met paniekaanvalle. “Hierdie angs kan ook aangevuur word deur spesifieke fobies soos ’n vrees vir kieme, openbare plekke, winkelsentra, ens.”
Simptome en diagnose
’n Diagnose moet deur ’n kundige en gekwalifiseerde persoon gemaak word.
- “Daar moet ’n herhalende patroon van duidelike en aanhoudende irrasionele vrees wees wat geaktiveer word deur ’n spesifieke objek of situasie.” Kinders sal hul vrees wys deur te huil, ’n vloermoer, deur aan iemand vas te klou, of te vries.
- “Blootstelling veroorsaak onmiddellike angs, wat fisiek waarneembaar is.” Bv. die persoon begin huil of kry ’n paniekaanval.
- “Die situasie of voorwerp word aktief vermy of met intense vrees of angs verduur.”
- “Die angs- of vreesreaksie is buite verhouding tot die ware gevaar.”
- “Die vrees/angs/vermyding is langdurig en kom reeds vir ten minste ses maande voor.”
- “Die vrees/angs/vermyding veroorsaak aansienlike ongemak en/of het ’n negatiewe invloed op die persoon se funksionering.”
Is behandeling nodig?
Beslis ja. Juis omdat dit “ ’n ernstiger graad van angs is”. Behandeling deur ’n kliniese sielkundige, of ’n sielkundige met spesifieke ervaring van fobies, of wat ook kundig is oor spelterapie, word sterk aanbeveel.
Behandeling kan ook dikwels met medikasie ondersteun word. In dié geval sal die persoon na ’n psigiater verwys word wat die toepaslike medikasie sal voorskryf. Gewoonlik sal ’n behandelingsplan opgestel word en sal die persoon ook leiding kry ten opsigte van leefstylkeuses, soos om gereeld te oefen, genoeg te slaap en gebalanseerd te eet.
Nog ’n manier van behandeling is blootstellingsterapie waar jy jouself “sistematies aan die fobie blootstel, terwyl jy jou liggaam leer om te ontspan”. ’n Proses wat kan werk, maar met uiterste omsigtigheid hanteer moet word omdat dit tot meer angs kan lei.
Wat om nie te doen nie
- ’n Fobie kan nie met logika hanteer word nie – dit help dus nie om met die persoon of kind te redeneer daaroor nie. Dit het niks met intelligensie te doen nie. Die persoon is baie bewus van sy irrasionele fobie, maar kan homself nie help nie en kan nie sy gedagtes beheer nie.
- Moenie ongeduldig word nie. Daar is nie ’n oornagoplossing nie, en empatie en begrip is nodig. Die persoon of kind is waarskynlik skaam daaroor en voel skuldig omdat hy sy gesin ook daardeur beïnvloed. Probeer dus eerder om die druk af te haal.
- Onmiddellike blootstelling aan dit waarvoor die persoon ’n fobie het, sal in die meeste gevalle tot meer angs lei. Dit is iets wat stelselmatig en in kombinasie met psigoterapie moet plaasvind.
Hoe kan jy iemand met ’n fobie ondersteun?
“Fobies kan jou lewe oorneem en moet daarom ernstig opgeneem word.”
Hou in gedagte dat die persoon met die fobie bewus is dat sy vrees irrasioneel is. Moet hulle nie spot, verkleineer of probeer om daaroor te redeneer nie. Moedig liewer die persoon aan om professionele hulp te kry. Omdat die proses moeilik en uitputtend kan wees, kan jy die persoon aanmoedig en ondersteun na die beste van jou vermoë. Niemand kies om vreesbevange te wees nie. – Annelie van Jaarsveld, mediaskakelhoof, Afrikaans.com