Kamogelo Baukudi (19) wat vanoggend vroeg veilig deur die polisie in Wepener gevind is.

BLOEMFONTEIN – Terwyl die polisieman wat op aanklag van ontvoering van ‘n leerling van Martie du Plessis-skool en afpersing Donderdag 3 Julie weer in die hof moet verskyn vir sy borgtogaansoek, is die vyf jong mans wat in Wepener in hegtenis geneem is, intussen vrygelaat.

Hulle sou Maandag 30 Junie saam met sers. Nzima Adoons (42) in die hof verskyn, maar hulle name is nooit in die hof aangeteken nie.

Mojalefa Senokoatsane van die Vrystaat-kantoor van die Nasionale Vervolgingsgesag, het vandag op ‘n navraag van BloemNuus bevestig die vyf mans se name het nooit op die hofrol verskyn nie omdat daar geen verbintenis tussen hulle en die misdaad gevind kon word nie.

Die gr. 11-leerling, Kamogelo Baukudi, is Vrydag 27 Junie met die aanbreek van die skoolvakansie in die vroeë oggendure veilig in Wepener opgespoor.

Kamogelo het saam met twee jong mans op ‘n pad tussen die Kwetla-township en Wepener gestap toe die polisie die twee mans tussen die ouderdomme van 20 en 29 in hegtenis geneem het. Die polisie het nog twee jong mans in ‘n huis in Wepener in hegtenis geneem.

In sy borgtogaansoek van Adoons wat Maandag deur adv. Jacques Potgieter gelei is, is dit duidelik dat die ongemerkte polisievoertuig waarin Adoons gery het, in die omgewing van die ontvoering was.
Adoons, wat in Dewetsdorp woon en lid van die Provinsiale teenbende-eenheid is, het in die hof gesê hy ken nie die seun of die familie nie en dra geen kennis van die losprys wat van die familie geëis is nie.

Tydens die ondervraging in die hof het Adoons gesê dat hy ná sy inhegtenisneming op Saterdag
6 Junie die Sondag in ‘n uitkenningsparade by die polisie was, maar dat niemand hom uitgewys het nie.

Senokoatsane sê die polisie se ondersoek duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.