Die Matjhabeng-munisipaliteit ontken heftig dat ’n stuk grond van 5,5 ha, waarop die Bronville-taxistaanplek gebou is en waarop ’n plaaslike familie al 46 jaar lank ’n onderneming bedryf, vir R100 000 verkoop is.
Die grond is vir R5,4 miljoen gewaardeer.
Die munisipaliteit sê net ’n gedeelte van die eiendom is vir R100 000 aan James en Reinnie Berries verkoop, maar volgens Lexus WinDeed, ’n aanlynplatform wat inligting oor titelaktes en die registrasie van eiendomme verskaf, is die volle 5,5 ha aan die Berries-egpaar verkoop.
Volgens die platform is die eiendom op 10 November 2021 vir R100 000 verkoop en op 29 Junie in die Berries se name geregistreer.
“Die hele stuk grond is vir R5,4 miljoen geadverteer, maar toe die munisipaliteit besef dat die taxistaanplek op dieselfde erf is, is net ’n gedeelte as te koop aangebied,” sê die munisipale woordvoerder, Tshediso Tlali.
Die transaksie het aan die lig gekom toe Louw Louw, eienaar van Bronville Steenmakers, in Augustus ’n kennisgewing van Berries se prokureurs gekry het dat hy die perseel binne 60 dae moes ontruim.
Louw, wat gegalvaniseerde heinings vervaardig, het met die munisipaliteit se toestemming ’n gebou van meer as R3 miljoen opgerig.
Die Louw-familie het in 1976 begin om die munisipale grond te huur en het aanvanklik hout en steenkool verkoop. Hulle het later die steenmakery bedryf en onlangs masjinerie uit China laat invoer, om heinings te vervaardig.
Louw het die munisipaliteit genader en sê die betrokke amptenare was nie bewus van die huurkontrak wat tussen hom en die munisipaliteit bestaan nie.
Louw het regsadvies ingewin en die prokureursfirma Neumann Van Rooyen het in Augustus aan die munisipaliteit geskryf dat sy ondersoek daarop dui dat óf die verkeerde gedeelte van die grond in Berries se naam geregistreer is, of dat die oordrag van die volle eiendom weens ’n fout of bedrog was.
Neumann Van Rooyen het op 12 Oktober die munisipaliteit ingelig dat hy onder meer die notules van die munisipale bodkomitee se vergaderings, die notules van alle raadsvergaderings, waarop die verkoop van die grond bespreek is, die instruksie aan die akteprokureurs, en alle aanbiedinge vir die aankoop van die grond wil sien.
Die firma sê verder dat die grond vir R5,4 miljoen waardeer is, die taxistaanplek se infrastruktuur R27 miljoen werd is en dat die verkoop van die eiendom onregmatig en irrasioneel is.
André Styger, van die regsfirma, sê net die hooggeregshof kan so ’n transaksie nietig verklaar en dat dit een van die moontlikhede is wat oorweeg word.
Piet Botha, ’n DA-raadslid, sê hy het verskeie vrae aan die munisipaliteit oor die transaksie gevra.
Botha sê volgens Berries het hy die hele erf gekoop, terwyl die munisipaliteit se behuisingsafdeling sê Berries het net ’n gedeelte gekoop.
Botha het verskeie vrae oor die kwessie aan die munisipale bestuurder gerig, en sê die vrae, wat betref die wetlike prosedures wat gevolg moet word, is meestal vaag beantwoord.
Botha sê hy sal ’n mosie op die volgende raadsvergadering indien, dat die transaksie omgekeer moet word.
Berries het Dinsdag Netwerk24 se medianavraag na die prokureursfirma Andrews Inc verwys, wat nie onmiddellik wou kommentaar lewer nie.