Provinsiale sekretaris van Samwu, Tiisetso Mahlatsi. Foto: Verskaf


Die Matjhabeng-munisipaliteit het met ’n kritieke situasie te kampe, met die voortslepende staking deur die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) wat nou ’n derde week betree.

Samwu het hierdie week te kenne gegee dat Cosatu en geaffilieerde liggame hulle by hom sal aansluit in hul stryd ten die uitvoerende burgemeester van Matjhabeng, Thanduxolo Khalipha.

Die staking duur onbepaald voort en gaan nou verskerp word, sê ’n woordvoerder vir Samwu.

Hy sê ’n tweede Samwu-optog, wat Cosatu en al sy geaffilieerde vennote sal aansluit, sal binnekort in Welkom plaasvind.

Hy sê die interdik deur die munisipaliteit het misluk, maar die hof het die stakers opdrag gegee om die reëls te volg.

“Samwu en Cosatu hou vergaderings om die pad vorentoe te beplan,” sê hy.

Tshediso Tlali, woordvoerder van die munisipaliteit, sê Matjhabeng het ’n hoëhof-interdik aangevra om die gewelddadige staking te stop. ’n Bevel nisi is ten gunste van die munisipaliteit toegestaan, met ’n keerdatum vir die bepaling van die finale bevel vasgemaak vir 20 Februarie. “Ten spyte hiervan wil die munisipaliteit met die vakbond skakel om gemeenskaplike terrein te vind tot voordeel van werknemers én die gemeenskap.”

Wydverspreide dienslewering-ontwrigting en swaarkry vir inwoners word deur die staking veroorsaak.

Die staking, wat op 29 Januarie begin het, het tot ernstige tekorte aan water en elektrisiteit gelei, met die gevolg dat inwoners dae aaneen sonder noodsaaklike dienste gelaat is.

Rioolprobleme het toegeneem, met riool wat vrylik in die strate in sommige gebiede vloei en ’n ernstige gesondheidsrisiko vir die gemeenskap inhou.

Vullisverwydering is erg geraak, en het daartoe gelei dat vullissakke in die strate ophoop. Dit lok diere en mense wat die vullissakke verskeur, en daar is ondraaglike reuke, sê Maxi Badenhorst, raadslid.

Verder kan inwoners wat op gedrukte rekeningstate staatmaak, nie toegang daartoe kry nie aangesien munisipale kantore gesluit bly weens die staking.

“Ten spyte van pogings om terugvoer te gee en dringende kwessies aan te spreek, was sleutelamptenare, insluitend die munisipale bestuurder, grootliks onbeskikbaar. Direkteure en bestuurders wys navrae af, wat die gebrek aan kommunikasie en koördinasie binne die munisipaliteit vererger,” sê Badenhorst.

Die staking het ook gelei tot voorvalle van infrastruktuur-sabotasie en vandalisme, wat pogings om die krisis op te los, verder bemoeilik.

Te midde van hierdie woelinge het die munisipaliteit gepoog om ’n interdik te bekom om werkers te verplig om terug te keer werk toe, maar Samwu hou vol dat die staking wettig is en weier om terug te staan.

“Onderhandelinge tussen die partye het nog geen positiewe uitkoms opgelewer nie. Een van die primêre eise van die stakende werkers is die bedanking van burgemeester Khalipha, wat gekritiseer is omdat hy werkers minag en by die administrasie van die munisipaliteit ingemeng het.

“Sy afwesigheid tydens die krisis, insluitend sy besluit om na Kaapstad te reis vir die staatsrede, is ’n duidelike boodskap dat hy geen belang het om die krisis in sy eie munisipaliteit op te los nie,” meen Badenhorst.

Tlali sê hulle het die werknemers aangemoedig om terug te keer werk toe.

“Ons versoek is met positiewe reaksie ontvang. Ons vra opreg om verskoning aan ons inwoners vir die ongerief wat veroorsaak is, en is daartoe verbind om gehatediens te lewer ondanks hierdie uitdagings.”

You need to be Logged In to leave a comment.