“My liefde vir mense en vir bak en kosmaak het my aangespoor om my passie in die kombuis uit te leef,” sê Susan Taljaard.
Susan was jare lank die Vryheidsfront Plus-raadslid in Matjhabeng. Sy het egter kort voor verlede maand uitgetree, nadat haar gesondheid haar laat besluit het om halt te roep.
“Ernstige gesondheidsprobleme het my gedwing om groot besluite te neem. Kook en bak was nog altyd my passie; ek is alombekend as die Koektannie,” vertel Susan.
“Met my uittrede uit die politiek het ek besef ek moet ’n nuwe uitdaging kry.
“Ek glo my toekoms is in God se hande en Hy neem die beste besluite vir my welstand.”
Susan kook uit haar hart uit vir die mense wat sy liefhet. Elke resep wat sy saamstel, word uit haar kop “saamgeklits” en is gevul met liefde en God se genade, sê sy.
Susan bak veral koeke, maar geniet dit ook om kos te maak.
Dit is verstommend om te sien hoe sy aan die een kant koekbeslag berei, terwyl sy die vla vir die pampoenkoekies se karamelsous klits en boonop die afronding doen aan die bobotie wat vir die oond regstaan.
Die saamkuier in haar kombuis word gekenmerk deur herinneringe aan kinderdae en die reuke van spesiale resepte.
Susan is ’n raakvatter in die kombuis wat menige bal in die lug kan hou sonder om te fouteer. Om heeltyds in die kombuis te wees, was wel ’n groot sprong.
“Die grootste dryfveer in my lewe was nog altyd my liefde vir mense.”
Sy het ook ’n klein boetiek, La belle, wat haar besig hou; sy wil in die toekoms ’n koffiewinkel met tuisgebak daar inrig.
Susan was 13 jaar in die politiek en is baie na aan die mense wat sy al die jare gedien het.
“Ek ken elkeen se nukke en behoeftes. Nou nog kontak mense my met hul probleme, en ek help dan waar ek kan.”
Ná haar uittrede kry sy ook die geleentheid om haar liefde vir mense al hoe meer in die bediening te laat deursyfer. Sy en haar man, Johan, is die herderspaar van die Blye Boodskap-bediening in Welkom.
Nadat Susan haar in 1984 in Welkom kom tuismaak het, en sy en Johan in 1987 getroud is, het die egpaar die bediening in 1998 betree.
Hulle het drie kinders – Maryke, Hannes en Marelize – en vier kleinkinders.
Susan verlang na die mense wat sy deur die politiek ontmoet en gehelp het.
“Sterk bande is gesnoer. Mense bel nog vir hulp; my kontakte by die munisipaliteit help graag as ek vra. Dit is vir my frustrerend dat mense sukkel met dienslewering.
Susan is opgewonde oor die geleenthede wat die toekoms inhou.
“My nuwe uitdaging het alle verwagtinge oortref, en ek kan amper nie bybly nie. Die bestellings stroom in, en ek kry die geleentheid vir bediening én om my mense te help,” sê sy.
My nuwe uitdaging het alle verwagtinge oortref, en ek kan amper nie bybly nie. – Susan Taljaard